HEBRON - RUSPLEK VIR UITGEWORPENES | |
  |
Daar gebeur wonderlike dinge by Hebron! Hebron is God se plek, God se keuse en God se duidelike roeping en is 14 km buite Potch geleë op die Vereenigingpad. Ons hoofdoel is om mense wat niks besit nie en haweloos is, 'n veilige tuiste te bied, hulle met die Woord van God te bedien, te voed en te klee, te beraad en te bemoedig en waar moontlik, weer uit te stuur na 'n nuwe werkkring. In ruil daarvoor moet hulle sekere take verrig. Elke weerbare man is verplig om twee dae per week op 'n hoenderplaas te werk waar hulle mis uit die hokke verwyder. Wanneer Hebron se werk op datum is, word die manne toegelaat om in die nabye omgewing te werk, maar nie in die dorp nie, aangesien versoekings daar te groot is. Die res van die tyd hou ons hulle op die plaas besig en dis wonderlik om te sien met hoeveel ywer hulle hier werk. Ek begeer dat iemand betrokke sal raak by ons 12-15 vrouens, sodat hulle ook besig kan bly. Elkeen was sy of haar eie klere in die beskikbare wasmasjiene en stryk dit self. Ons inwonertal vermeerder steeds en hier is byna 50 mense! Vir ons finansies is ons algeheel van God afhanklik en ons loof Hom dat Hy nog altyd voorsien het. By Hebron is daar 'n wye verskeidenheid van mense: geleerd en ongeleerd, vakman en helpers. Dit is waarlik 'n sonderlinge groep mense, met die klem op "sonder." Hulle kom hier aan sonder bagasie, sonder werk, sonder heenkome. Dikwels sonder ID, bril en tande. Selfs soms sonder 'n ledemaat soos 'n arm, voet of been en dikwels sonder hoop en sonder God. Maar daar is ook uitstekende vakmanne en mooi mense wat deur omstandighede alles verloor het. Mense word deur maatskaplike werkers na ons verwys, maar ons kry hulle deesdae van oral. Mense laai hulle sommer hier af of hulle kom self hier aangestap. Natuurlik stuur Satan ook sy mense, maar hulle word gou uitgesorteer en loop meestal vrywillig, tensy God hulle net hier "arresteer". Die "miswerk" sorteer die "vakansie-gangers" en kansvatters gou uit! Die wat bly, wíl werk en wíl gehelp word. Ons kan nie mense met skoolgaande kinders inneem nie, maar ons het wel 'n paar voorskoolse kinders, sowel as koshuiskinders wat enkele naweke en vakansies hier tuisgaan. Aangesien ons geen siekekamer met die nodige fasiliteite het nie, kan ons slegs redelik gesonde mense inneem, liefs geen mense bo 65 jaar nie. Mense wat ongeskikt-heids- of enige pensioen kry, moet die helfte daarvan aan Hebron oorbetaal. Ons vervoer mense gereeld na die kliniek, hospitaal en pensioenbetaalpunte. Ons dank God vir verskillende kerke en beraders wat by ons betrokke is en nooi selgroepe uit om ons te kom besoek. Die inwoners wil graag Sondae kerk toe gaan, maar het te veel vir ons geword om te vervoer. Kan iemand dalk hiermee help? Omdat die meeste van die inwoners honger-pyne ken, eet hulle reuse borde eenvoudige, voedsame kos. Ons innige dank aan elkeen wat kosware, brood, groente en vleis aan ons skenk. Ook vir die meubels, baie klere, skoene en boumateriaal wat ons gereeld ontvang, asook vir die raamwerk, vensters en dak van die stoor. Ek weet Vader sal u daarvoor beloon! Hebron is 'n geregistreerde maatskappy en 'n boekhouer doen ons boeke. Ons Raad kom gereeld bymekaar en ons Komitee het weeklikse bidure saam met die huisouers waar ons spesifiek vir Hebron se behoeftes bid. Ons kan wonderlike verhale vertel van God se voorsiening en veranderde lewens en is baie opgewonde om hier deel te mag wees van God se plan. GETUIENIS Ons het onlangs 'n man ingeneem wat soos 'n boemelaar gelyk het. Vuil, verwond en sonder skoene. Hy is op straat beroof van alles, ook van sy ID en bankkaart. Ons vind toe uit dat hy baie musikaal is, kore afgerig het en orrel en klavier kan bespeel. Ongelukkig het Hebron geen musiekinstrumente nie. Ek het hom by my huis getoets op die orrel en gevind dat hy 'n baie goeie stem het en ons kon nie ophou om geestelike liedere saam te sing nie. [Ons wil onder sy leiding 'n koor begin, want Hebron beskik oor wonderlike sangtalent]. Hy het in 'n Christenhuis grootgeword, het die Here op 20-jarige leeftyd gevind en jare lank 'n voorbeeldige lewe gelei, maar is deur 'n suksesvolle lewe later van God vervreem. Nadat hy alles verloor het, het hy soos die Verlore Seun teruggekeer na die Vader. Afgesien van hom, is daar ook 4 ander mense wat onlangs hulle harte vir Jesus gegee het, en hoe kosbaar is elke siel! My hart jubel in aanbidding voor God vir 'n plek soos Hebron wat sulke mense kan inneem en versorg. Ons is besig om dringend 'n stoor vir werkverskaffing en 'n woonstel vir geestelike ouers te bou. Bouwerk het reeds ver gevorder, maar fondse is voorlopig uitgeput. Ek weet Vader sal voorsien, maar miskien wil hy jou seën en gebruik om iets by te dra. Ook benodig ons elektriese kabels, verf, boumateriaal en skrootyster. Aangesien ons huis en Hebron 2 km van mekaar verwyder is en ons gereeld per selfoon moet kommunikeer, vra ons of iemand dalk 2 gebruikte tweerigting-radio’s wil skenk. Hang- en laaikaste, asook musiekinstrumente, is ook baie nodig. DANKIE! Navrae: Gretha le Roux: (018) 290 1802 of 082 607 7198 of huisvader Brian 072 148 7775. Bankbesonderhede: Potchefstroom Opheffingsprojek, Absa Tomstraat. Tjekrekeningnommer: 4057368904. Takkode: 335-138. |