ALLES BEHOORT AAN DIE HERE
  'n Seuntjie het eenmaal met groot sorg vir hom 'n pragtige, klein bootjie gemaak. Toe dit klaar was, het hy trots teruggestaan en sy handewerk bewonder. Hy het gebrand om te gaan kyk hoe die bootjie op die rivier sou vaar. Nie lank daarna nie het hy na die rivier gegaan, sy bootjie op die water geplaas en met genot aanskou hoe dit net soos 'n regte boot op die water vaar!
Hy het egter nie rekening gehou met die sterk stroom nie. Die stroom het sy bootjie stroomaf meegesleur. Hy kon maar net toekyk hoe dit al verder en verder buite sy bereik wegvaar. Al wat hy kon doen, was om langs die rivier af te harloop om te kyk of hy sy bootjie kon terugkry. Maar dit was nodeloos. Die bootjie was weg! Met groot teleurstelling en hartseer is hy huis toe.
Lank daarna stap hy in die dorp by 'n pandjieswinkel verby. En wat sou hy sien? Sy bootjie in die venster! Haastig gaan hy binne om dit terug te vra, maar hy moes van die winkeleienaar verneem dat hy dit by iemand gekoop het. Die seuntjie kon dit terugkry, maar sou moes betaal daarvoor.
Al wat hy kon doen, was om met die winkeleienaar te reël om die bootjie vir hom te hou. Baie lank het hy gespaar en gespaar totdat hy eendag met die regte som geld by die winkel kon instap om sy bootjie terug te koop.
Toe hy huis toe stap, sê hy vir sy bootjie: "Jy is nou tweekeer myne. Eers het ek jou gemaak, en nou het ek jou gekoop."
Dit is wat die Here ook met ons gedoen het. Eers het Hy ons gemaak, asook die ganse skepping. Ps. 24:1-2 verklaar: "Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome." Maar alles is geskend deur die sondeval, en tog behoort dit steeds aan die Here en hou Hy alles in stand (Kol. 1:17). Hy sorg vir sy skepping, tot vir die voëltjies (Matt. 6:26).
Alles behoort aan die Here omdat Hy dit alles gemaak het (Ps. 24:1-2). Alle mense is Sy skepsele (Daarom behoort hulle aan Hom). Maar nie alle mense is Sy kinders nie (Ps. 24:3-6). Sy kinders mag in Sy teenwoordigheid kom. Onge-heiligdes mag nie. Ps. 24:3-6 sê: "Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in Sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van Sy heil. Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat U aangesig soek - dit is Jakob. Sela."
God kan maak met Sy eiendom wat Hy wil - daarom sal Hy diegene wat aan Hom onge-hoorsaam is op die dag van Oordeel in die hel werp. Al is elke mens Sy eiendom omdat Hy hulle gemaak het (Ps. 24:1), sal slegs sekeres in Sy teen-woordigheid toegelaat word: Dit is die kinders van die Here wat uit God gebore is. "Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore" (1 Joh. 3:9). En verder: "Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is"
(1 Joh. 5:1).
Hy maak elkeen nuut wat in Jesus glo en Hom aanneem as Persoonlike Saligmaker. Diegene word herskep. 2 Kor. 5:17 verklaar: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe (Grieks = kainos, d.i. gerestoureer of oorgemaak of herstel) skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." Hulle is nuutgemaak (kainos). Hulle is nou tweekeer Syne! Eers het Hy hulle (ons) gemaak, en nou het Hy hulle (ons) gekoop deur die bloed van Jesus. 1 Pet. 1:18-19 verklaar: "...omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus..."
Daar is nie verskillende paaie om met die berg (van die Here tot in Sy teenwoordigheid in te kom nie (Ps. 24:3-6).
Daar is maar één pad. Jesus sê: "Ek is die WEG en die WAARHEID en die LEWE; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie"
(Joh. 14:6).

Het ję al hierdie pad (JESUS)
gevind? Neem Hom vandag aan as Saligmaker!

Indeks     Index