WAG OP DIE HERE
 
Die hoogste doel van gebed is om gemeenskap met God te hê, eerder as om net versoeke tot Hom te rig. Selwyn Hughes het gesê: "O Here, leer my die belangrikheid daarvan om tyd met U deur te bring - nie net om dinge van U te vra nie, maar eenvoudig net om in U teenwoordigheid te wees, U liefde te ervaar, en die heerlike blydskap van net by U te wees, te ondervind."
Om dikwels alleen met God te wees, met Hom te praat en Sy Woord te ondersoek, is die geheim om Hom waarlik goed te leer ken. God se intieme vriende is nooit haastig nie. Hy stort ook nie Sy geskenke op die haastige "kommers" en "ganers" uit nie.
Met so baie verpligtinge en aktiwiteite wat aanspraak maak op ons tyd, beskou baie mense ware, opregte gebed en om die Bybel aandagtig te lees en te bestudeer, as weelde-artikels in plaas van as 'n noodsaaklikheid. Ons eet ten minste drie keer per dag - waarom verwaarloos ons dan ons geestelike voedsel en kommunikasie met God, ons Vader?
In Daniël 6:11 lees ons: "…en hy het drie maal op 'n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor Sy God, net soos hy tevore gedoen het." Van Jesus lees ons in Markus 1:35: "En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid." As Jesus dit nodig gevind het om so baie te bid, hoeveel te meer moet ons God nie soek in gebed nie?
Die geheime van jou hart deel jy net met diegene wat die naaste aan jou is. Net so openbaar God ook Sy verborgenhede en geheimenisse aan diegene wat die intiemste met Hom wandel. In Psalm 25:14 lees ons: "Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees, en Sy verbond om hulle dit bekend te maak." In tye van afsondering en gebed het die Here aan Moses Sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel, Sy dade (Ps. 103:7). Ons stiltetyd is die fondament, die basis vir "bid sonder ophou". Dit beteken letterlik om in voortdurende noue kontak met God te leef (2 Thess. 5:17). As ons onsself waarlik oopstel vir die Woord van God en vir gebeds-omgang met die Here, verander Hy ons hart en ons gesindheid. Dan word ons al hoe meer gelykvormig aan Sy Beeld en sal Jesus die werk wat Hy in ons begin het, makliker kan voltooi!
Dit sal ons ook loon om die volgende gesegde te oorweeg: "As mense werk, werk mense, maar as mense bid, werk God!" Kom ons leer ook by Maarten Luther: "Tyd met God gespandeer, is tyd gewen." Wanneer ons tyd aan God afstaan, is dit wonderlik om te ervaar hoe Hy ons tegemoetkom met ons daaglikse verpligtinge en ander probleme - dit as't ware uit ons hande neem en die rowwe paaie vir ons gelyk maak!
Wag op God en ondervind Sy wonderlike, onbegryplike liefde en genade!
- Huegene Venter

Indeks     Index