'n Vriendelike Woord
 
Wat beteken 'n vriendelike woord en warm handdruk van 'n mede-mens tog nie vir jou as jy met die een of ander probleem worstel nie?
Paulus moes ontsettend eensaam gevoel het toe hy ná sy bekering tot die Christelike geloof, in die Siriese stad Damaskus aangeland het. In Jerusalem was hy 'n man van aansien, 'n aristokratiese Jood, 'n Hebreër uit die Hebreërs. Nou breek hy met sowel dié prestige as sy vroeëre vriende. Hy stap Damaskus binne sonder 'n vriend... By niemand kan hy aanklop om hulp en raad nie - die Christene by wie sy toekomstige tuiste sou wees, was nog bang vir hom en bejeën hom met agterdog. Sonder 'n vriend in die wêreld. Eensaam. Geslaan met blind-heid en met 'n onbekende toekoms voor hom...
Juis op hierdie donker tydstip daag Ananias, die leier van die Christelike gemeenskap van Damaskus, by hom op. Hy lê sy hand op Paulus en sê vir hom: "Saul, broeder…" (Hand. 9:17).
Wie kan bereken wat dié aanraking, dié broedergroet vir Paulus beteken het? Watter bydrae het dít gelewer tot die ywer waarmee hy later die Evangelie na verafgeleë gebiede gebring het?
In die lewe van Luther gebeur daar iets dergeliks. Hy moet voor die Ryksdag van Worms verskyn. Dit is 'n krisisuur vir die Hervorming - 'n uur waarin Luther alleen die stryd vir waarheid en vryheid moet voer teen die magtige Rooms-Katolieke Kerk.
En toe, net voordat hy die groot vergadering sou binnestap, kom daar iemand by hom staan wat vir hom tot groot onderskraging was: die gevierde ou generaal Frundsberg. Hy sit sy hand op Luther se skouer en sê: "My arme monnik! My klein monnik! Jy is besig om 'n stryd te begin wat groter is as al die gevegte waarin ek en my helde betrokke was. Gaan voort in die Naam van die Here, en hou goeie moed: God sal jou nie verlaat nie!"
'n Hand op sy skouer, 'n bemoe-digende woord… Wie kan bepaal wat dit vir Luther beteken het? Watter bydrae het dit gelewer tot die Hervorming wat die loop van die geskiedenis verander het?
Van Tolstoi, die beroemde Russiese skrywer, word vertel dat hy eendag 'n bedelaar in die strate van Moskou raakgeloop het. Die arme man was koud en honger en in sy ellende het hy sy lelike, growwe hande bedelend uitgesteek.
Tolstoi het gaan staan en sy sakke deursoek na 'n geld-stukkie. Hy het ongelukkig niks by hom gehad nie. Met opregte meegevoel sit hy toe maar sy hand op die skouer van die bedelaar en sê: "Ek is jammer, broeder, maar ek het niks by my nie."
"Toemaar meneer," was die ou bedelaar se antwoord, "ek dank jou. Hierdie gebaar is ook 'n geskenk."
Tussen ons, en náby ons, is daar mense wat alleen staan. Som-mige staan alleen in hul stryd teen die sonde. Ander is eensaam op die pad van beproewing en lyding. Baie gaan gebuk onder die verantwoor-delikhede wat vir hulle opgelê is.
Laat ons onthou: DAAR IS KRAG IN 'N VRIENDELIKE WOORD. DAAR IS 'N BOODSKAP IN 'N HANDDRUK!
Maar waaruit word hierdie gebaar gebore? Jesus het so baie oor die liefde gepraat. Dit was die essensie van SY LEWE EN SY PREDKING (Joh. 3:16). Paulus skryf oor die liefde (1 Kor. 13) vanweë die GEBREK aan liefde by die Korintiërs. Hy toon aan dat liefde die grootste konstruktiewe krag van die lewe is: dit is die skepper van karakter. Die kerk van Korinte het 'n warboel van afguns, ydelheid en onenigheid geword. Daarom was dit so belangrik dat liefde daar geopenbaar sou word.
Klink dit nie vir u bekend nie? Sou Paulus dit nie ook aan baie hedendaagse gemeentes kon skryf nie?
Mag dit tog só wees dat diegene wat naby ons kom, dadelik sal voel dat hulle omhul en toegevou word in die LIEFDE VAN Christus wat deur ons vloei. Mag elke daad, elke gedagte en elke blik van ons LIEFDE uitstraal!

Indeks     Index