GELOOFSBELYDENIS | |
  |
(Verwerk deur dr. Hannes de Kock, 082 885 5163 Ek glo in God drie-enig. Ek glo in die Vader - Skepper van alles wat is en leef. Onder-houer van alles in die hemel en op aarde. Vader van verlostes wat kinders van God genoem word deur Jesus Christus, die enigste Seun van God die Vader. Ek glo in Jesus Christus, my Verlosser, my Hoëpriester, my Leidsman en my Herder - dié LIG vir die wêreld. Seun van God wat gebore is as 'n mens sonder sonde en die gestalte van 'n dienskneg aangeneem het. Ek glo dat Jesus die Weg, die Waarheid en die Lewe is vir 'n verloregaande wêreld. Ek glo aan Sy plaasvervangende sterwe aan die kruis, Sy opstanding uit die dood en daarmee saam die oorwinning oor die ewige doodsmag van die sonde. Ek glo dat Jesus Christus Self die waarborg is vir die ewige lewe vir diegene wat in Hom glo. Ek glo dat Jesus Christus teruggekeer het na die Hemel waar Hy 'n ereplek inneem en gekroon is met eer en heerlikheid. Ek glo aan 'n nuwe hemel en nuwe aarde wat God Self sal skep vir al Sy kinders. Ek glo dat Jesus Christus weer sal kom en finaal sal oordeel oor die wat lewe en die wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees wat lewend in my woon en my daagliks teen die bose bewaar. So bewaar dat niks en niemand my ooit uit Sy hand sal kan ruk nie. Ek glo dat die Heilige Gees ook my gedrag van elke dag en elke oomblik wil bepaal. My gedrag so binne my wil inrig dat dit net dié LIG - Jesus Christus - na die wêreld om my sal weerkaats. Ek glo in die Vader, Seun en Heilige Gees wat een God is en ook die enigste. Hy is my God en my vaste hoop vir die ewigheid. |