DIE HERE LEEF EN HY IS STEEDS OP DIE TROON! | |
  |
Maggie Alberts 072 435 3225 Ek het verlede jaar gedurende Desember, by 'n welbekende prediker die volgende getuienis gehoor wat vir my tot groot seën was. Hy was 'n klompie jare gelede die hoofspreker by 'n groot uitreik waarby verskeie kerke betrokke was. Elke aand het een van die predikante van die betrokke kerke die diens gelei. Een van die predikante het egter op daardie stadium in sonde gelewe. Hy het 'n drankprobleem gehad en ook 'n buite-egtelike verhouding. Die bekende prediker het voor 'n spesifieke diens toe van hierdie probleme bewus geword. Hy was ontstig en omgekrap. Die Here het egter in sy hart gefluister: "Moenie bekommerd wees nie, bring jy net die boodskap". Hy was getrou en die saal was vol mense. Toe hy na sy boodskap 'n uitnodiging rig aan enige persoon wat sy/haar lewe met die Here wou regmaak, het verskeie mense gereageer. Hy het dadelik na die gebedskamer gegaan en op mense gewag. Die eerste persoon om te reageer was hierdie predikant. Hy het saam met hom gebid en die man het sy lewe met die Here reggemaak! Wat ons prediker nie geweet het nie, was dat hierdie predikant goed bevriend was met 'n baie bekende (wêreldbekende) sterrekundige. Hy het teenoor hom gaan getuig van wat die Here vir hom gedoen het. Dit het so 'n indruk op hierdie hooggeleerde man gemaak, dat ook hy deur sy vriend se getuienis die Here Jesus as Verlosser gevind het! Dit is egter nie die einde van die storie nie…'n Paar jaar later was hierdie prediker weer betrokke by 'n uitreik. Afgesien van die dienste het hy saam met die plaaslike predikant huisbesoek gedoen. Die laaste middag was daar nog net een naam op die besoeklys oor. Die plaaslike predikant wou huis toe gaan, maar die prediker het daarop aangedring dat hulle ook daardie laaste persoon moet besoek. Hulle kom toe by 'n dame uit en na 'n lang gesprek neem sy die Here Jesus aan en vind vir die eerste keer in haar lewe ware vrede. Terwyl die prediker na haar lewensverhaal geluister het, het hy besef dat hierdie dame die dame was waarmee daardie predikant van jare gelede 'n verhouding gehad het. En nou het sy ook die Here gevind!!! Die Here werk op wonderlike maniere! Ons moet maar net gehoorsaam en getrou wees. Vriende, die tyd is min, die Here Jesus gaan weer kom. As Hy kom, waarmee gaan Hy u besig vind? Ons het verlede week op 'n klein dorpie in Noordwes dienste gehou en skole en 'n ouetehuis besoek. Ook van huis tot huis gegaan en met mense oor hul saligheid gepraat. Die Here het in harte gewerk. Verskeie mense het behoeftes gehad en ons kon saam met hulle bid. Van die kinders het die Here Jesus aangeneem as Saligmaker! Die Here het nog nooit verander nie. Hy is steeds dieselfde, die groot EK IS! Laat ons die tyd uitkoop en werk, ons oog gevestig op Hom, die Leidsman en Voleinder van die geloof! Prys Sy lieflike Naam! |