DEURE GAAN TOE | |
  |
![]() Die Bybel praat op 'n hele paar plekke van 'n deur wat finaal toegemaak is. Op ander plekke word daar weer gepraat van 'n oop deur en dit verwys na geleenthede wat die Here vir ons gee om te gebruik. In Matt. 25 lees ons van tien jong meisies wat vir die bruidegom gewag het. Van hulle het vyf vooraf gedink aan alles wat nodig sou wees en hulle het hulle daarop voorberei. Die ander vyf was wel daar, maar nie behoorlik voorberei nie. Toe hulle olie vir hul lampe wou gaan koop, was dit reeds te laat. Vers 10 sê: "Terwyl hulle weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom gekom. Die vyf meisies wat gereed was, het saam met Hom ingegaan na die bruilofsete toe, en die deur is gesluit" (DLB). 'n Kans om iets te doen, duur nie vir altyd nie. 'n Mens kry dieselfde gedagte toe Noag en sy gesin in die ark ingegaan het. "Die Here het Self die deur van die skip toegesluit toe Noag-hulle binnekant was" (Gen. 7:16). Nadat die Here die deur gesluit het, kon niemand meer inkom nie. Oop deure gaan op 'n sekere tyd toe. As ons die pad kies wat met die bordjie 'Môre' aangedui word, kom ons uit by die bestemming 'Nooit'. Gewoonlik dink ons dat die sondes wat ons gedoen het erger is as die sondes van versuim, die dinge wat ons nie gedoen het nie. Maar geleenthede wat nie gebruik word nie, loop uit op verlore geleenthede, wanneer die deur nie weer oopgemaak kan word nie. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan was die sonde van die priester en die Leviet dat hulle niks gedoen het nie. Hulle het hul hart gevoelloos gehou en 'n wye draai om die beseerde man geloop en hom net so laat lê totdat die Samaritaan hom oor die man ontferm het. Ons sien ook so 'n versuim in die verhaal van die ryk man en Lasarus. Ons lees van geen misdaad wat die man gepleeg het nie. Maar sy sonde was dat hy nagelaat het om goed te doen. Sy versuim het hom die ewige lewe gekos. In Luk. 19:20 lees ons van 'n man wat geld ontvang het om mee te werk en dit toe gaan wegsteek het. Hy het nie die een of ander misdaad gepleeg of van die geld gevat nie, maar hy wou nie die kans gebruik nie. Dit was sy sonde. Jak. 4:17 sê: "Onthou, as 'n mens weet wat die regte ding is om te doen en jy doen dit nie, dan het jy sonde gedoen." Versuim is 'n ernstige saak. As 'n mens die kans om gered te word, laat verbygaan, sal dit vir jou op die ewige dood uitloop. "Hoe sal ons dan die straf vryspring as ons ons nie steur aan so 'n wonderlike verlossing nie?" (Heb. 2:3). As ons aanhou om 'n kans nie te gebruik nie, sal die deur finaal toegaan! Die Bybel sê ons moet die besluit neem om op Christus te vertrou terwyl dit nog dag is. God belowe geen geleenthede môre nie, net vandag. Die enigste geleentheid waarvan 'n mens seker kan wees, is nou. Vandag is die dag van verlossing. Vandag is die kans om vir die Here iets te doen. Jesus sê: "Luister, Ek staan voor die deur en klop. As iemand hoor dat Ek hom roep en die deur oopmaak, sal Ek inkom en saam met Hom eet en Hy sal ook saam met My eet" (Openbaring 3:20). Hy sal nie vir altyd staan en klop nie. As jy nog nie vir Christus in jou hart laat inkom het om jou Verlosser te wees nie, neem Hom nou aan. As Hy reeds jou Verlosser is, gee nou aan Hom die eer. Talente wat nie gebruik word nie, verloor 'n mens uiteindelik. Spiere wat nie gebruik word nie, verswak. Water wat bly stilstaan, word sleg. Horlosies wat nie opgewen word nie, gaan staan. As 'n mens nie deur 'n oop deur ingaan nie, sluit die deur uiteindelik. Versuim kan jou die ewige lewe kos! Uit: Moody Monthly |