BROOD EN WATER BRING LEWE | |
  |
![]() Basiese elemente soos brood en water is nodig om ons aan die lewe te hou. Die Here gebruik hierdie lewensmiddele om ’n boodskap aan ons tuis te bring. Net soos ons nie kan bestaan sonder brood (voedsel) en water nie, so kan ons ook nie geestelik bestaan sonder die Brood en Water van die Lewe nie. Jesus sê immers: "Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie" (Joh. 6:35). Gelowiges moet gedurig na Hom toe kom om deur Hom gevoed te word. Dit is ook die betekenis van die Griekse teks: Ons moet altyd, voortdurend komende na Hom toe kom, dan sal Hy altyd en voortdurend vir ons sorg sodat ons nie geestelik honger of dors sal wees nie. Hy leer ons dan ook bid: "…gee ons vandag ons daaglikse brood" (Matt. 6:11). As HY dan die Brood van die Lewe is, is dit allernoodsaaklik dat ons elke dag ons daaglikse Brood by Hom moet gaan soek! Daagliks op ons knieë voor Hom, bring ons in ’n lewende verhouding met Hom waar ons Sy Stem kan hoor en nie geestelik gebrek ly nie. Daarom staan daar in Ps. 42:1 geskryf: "Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!" God verlang om met ons in ’n intieme verhouding te leef. Soos klein kindertjies afhanklik is van hulle ouers, so moet Sy kinders ook in afhanklikheid van Hom leef! Hoe sal ons onsself dan arrogant gedra in Sy Teenwoordigheid, terwyl ons tog maar net ’n stofkorreltjie op hierdie aarde is? Hoe sal ons onsself verhef en groot hou, terwyl slegs Hy die groot, almagtige God is? Sy Woord verklaar immers: "God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade" (Jak. 4:6). Laat ons voortdurend na Hom toe gaan vir ons daaglikse Brood en Water sodat ons voortdurend sal leef in Sy Teenwoordigheid! - Dr. J J Venter |