HOE GROOT IS GOD!!! | |
  |
![]() Elsabé en Johann Fourie 018 294 5073 / 072 709 7432 "As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en Hy red hulle uit al hul benoudhede." (Ps. 34:18 NV). Ons kan werklik getuig dat die Here ons gebede verhoor het en ons uit al ons benoudhede gered het. Johann was glad nie siek nie. Om die waarheid te sê, hy was so gesond dat hy die oggend van 11 Des. 1998 om 05:00 oefeninge gedoen het. Nadat hy ’n bietjie tou gespring het, het hy my kom vra om sy nek te smeer aangesien dit vreeslik seer was. Ek het gedink dat hy met die touspring dalk ’n senuwee kon vasgeknyp het en het dadelik badkamer toe gegaan om sy nek te smeer. Hy het met sy nek onder ’n kraan gestaan en gekrul van die pyn. Binne twee minute nadat hy my gevra het om sy nek te smeer, het hy bewusteloos geraak. By die hospitaal aangekom, het hulle hom iets vir die pyn en naarheid ingespuit en gesê as sy toestand nie verbeter nie, hulle hom vir ’n breinskandering sal stuur. Dit was omstreeks 12:00. Daar is toe bevind dat daar bloeding op die brein was en hy is dadelik na 1 Militêre Hospitaal, Voortrekkerhoogte, verwys. Daar het dr. Viljoen baie openlik die prentjie vir ons geskets en ons het besef dat daar geen oplossing was nie, behalwe om baie ernstig te bid. Omdat al my kinders naby aan die Here lewe, kon ons die hele tyd die stryd - met die Here as ons Leidsman - in oorwinning voer. Wanneer daar normaalweg bloeding plaasvind, is daar ’n paar ml bloed op die brein. In Johann se geval was dit 25 ml. Al vier die breinholtes was gevul met bloed en daar het reeds bloedstolling in die breinvog plaasgevind. Die moontlikheid was nou dat hulle op die 1ste of op die 10de dag kon opereer indien die pasiënt by sy volle positiewe is. Hulle wou dit egter nie op die eerste dag doen nie omdat die brein gewoonlik geswel en bloederig is en hulle dus letterlik deur die breinlobbe moet blaai om die fout te soek. Dit kan dan breinskade tot gevolg hê. Verder sou hulle slegs van die breinvog aftap indien sy lewensfunksies verswak, aangesien ’n vermindering van drukking in die breinholtes kon veroorsaak dat die hoër drukking in die are, aanleiding kon gee tot fatale beroerte. Die dokter het gesê dat hy nie eens gaan waag om vir ons te sê wat Johann se kans was om die eerste nag te oorleef nie en ek moes hierdie tyding maar aan die familie oordra… Indien hy wel die eerste nag sou oorleef, sou hy egter geweldig siek wees tussen die 3de en die 7de dag. Die brein sou eers op die 10de dag gesond genoeg wees om die kleurstof van die angiogram te kon hanteer. Dus was daar eintlik geen hoop vir hom nie. Ons sou hom moes "deurbid " om by die 10de dag uit te kom. Johann is toe dadelik oorgeplaas na die Intensiewe Sorgeenheid. Ek (Elsabé, sy vrou), en ons jongste seun, Pierre, was by sy bed toe hy vir ’n paar oomblikke by sy volle positiewe was en ek het vir hom presies gesê dat sy kans op oorlewing uitermate gering was en dat die HERE ons enigste hoop is. Ons drie het saamgebid, Johann aan die Here opgedra en God gedank dat Hy Sy Seun gestuur het om vir ons sondes en siektes te sterf. Nadat ek ons oudste seun, Jaques, laat weet het hy moet dadelik kom, het die Here vir hom gewys dat sy hande soos twee gloeilampe gloei en dat hy net sy hande op sy Pa se kop moes plaas wanneer hy vir hom bid. Intussen is Petrus, (Johann se swaer), ook toegelaat om hom met olie te salf en vir hom te bid. Jaques het ’n halfuur later opgedaag. Sy hande het nog steeds gegloei en sonder dat hy daarvan bewus was dat Petrus Johann gesalf het, het hy ook sy Pa met olie gesalf en die gees van die dood bestraf. Later het die Here vir my Openbaring 2:10 gegee. Dit was vir my ’n groot troos, want die dae in die teks het ooreengekom met die dae wat Johann moes wag - 10 dae! "Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal TIEN DAE lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee." Die volgende 10 dae was ’n worstelstryd! NIE teen "vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug" (Ef. 6:12). Gedurende hierdie dae is daar sonder ophou deur ouers, familie, vriende, kennisse en onbekendes oor die hele land vir Johann gebid en het hy ervaringe beleef wat nie alles oorvertel kan word nie. Hyself was permanent in gebed. Wanneer sy brein seer was en hy nie meer woorde gehad het nie, het hy in tale gebid. Ons het die monitor dopgehou en gemerk dat wanneer ons vir hom bid, die lesings op die monitor reëlmatig raak en die pyn verstil. Gedurende hierdie tyd was Johann onder meer in die doderyk. Die Here het ook saam met hom geloop en hom ’n paar dinge gewys. Hy moes na regs kyk en daar was net ’n klein groepie mense wat gereed was om Hemel toe te gaan. Die Here was baie teleurgesteld omdat so min mense Hom as Saligmaker aanvaar het. Hy het aanhoudend vir Johann gesê: "As mense maar net kon weet en besef hoe lief Ek hulle het!" Daarna het Hy Johann na die linkerkant toe laat kyk. Daar het duisende mense gestaan en wag op die oordeel. Die Here het vir Johann gewys wie van die mense nie gereed was toe hulle gesterf het nie. Baie van hulle was bekendes. Die Here het ook vir hom spesifiek gewys hoeveel leraars ongered gesterf het! Verder het die Here vir hom vertel hoe verdoemend drank en rook is en hoe baie mense dink hulle gaan Hemel toe terwyl dit wat hulle deur die week uitlewe, nie aan Sy standaarde voldoen om die Ewige Lewe te ontvang nie. Dit was nie net ’n kwessie van bid vir sy herstel nie. Dit was letterlik ’n geveg om sy siel wat die duiwel wou beroof. Ons het sy kamer se kosyne gesalf sodat niks of niemand hom kon aanval in sy swak toestand nie. Hy het gevegte met demone gehad en ons vertel hoe hulle sit in kolonies - amper soos in ’n byekorf - en hoe hy hulle met die hulp van die Here oorwin het. Johann wat die siek een was, het vir almal wat hom kom besoek het, gebid en selfs dr. Viljoen se hande en die werk wat hy met hulle verrig het, geseën. Dr. Viljoen het hom nie geopereer nie en die Here het ’n ander weg oopgemaak en voorsien vir bestraling. Hoewel Johann aan korttermyn-geheueverlies gely het, het hy presies onthou vir wie hy al gebid het en vir wie nie. Hy het ook gevra na diegene vir wie hy nog wou bid. Dit het geweldige drukking op sy brein geplaas, maar ten spyte daarvan het die Here hom bewaar. Dit was asof hy lering van die Here ontvang het terwyl hy so rondgeswerf het in die geestesryk. Hy het ook geweet dat ons vir ander mense moet bid om self genesing te ontvang. In Jakobus 5:15-16 lees ons onder andere "…en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word…" Die woorde en manier waarop hy gebid het, was ook nie sy woorde nie en ons het die indruk gekry dat hy besig was om ’n baie nou pad met die Here te wandel. In die dae wat gevolg het tot en met die 13de dag was Johann baie siek. Hy het ook gesê dat die Duiwel, met ’n groot mes in sy hand, twee beddens van hom af gesit en wag het om hom te kom haal, maar hy het konstant in tale gebid. Hy het sy dae deurgeworstel en in tale gebid, sonder ophou. Die Duiwel het verloor - hy kon hom nie kry nie! Ons het die uitslag van die angiogram op 24 Des. 1998 gekry. Daar was ’n vergroeiing van are agter die linkeroog. Dit was die rede waarom die oog nog altyd blind was. Die vergroeiing het teen die oogsenuwee gedruk. Dr. Viljoen het gesê dat dit baie ernstig was, aangesien die helfte van die vergroeiing in die brein en die ander helfte in die breinvlies was. Daarom het hy nie kans gesien om te opereer nie en wou tot 1 Jan. 1999 wag vir ’n sekere professor se mening. Daar was ’n nuwe soort bestraling wat moontlik sou kon help. Op 31 Des. is Johann huis toe gestuur. Op daardie stadium het die professor nog nie die uitslae ontleed nie. Op Maandag 2 Jan. 1999 het daar ’n tweede keer bloeding plaasgevind. Hierdie bloeding het veroorsaak dat Johann verlam was aan die regterkant van sy liggaam. Hy is dadelik weer per ambulans na 1 Militêre Hospitaal geneem vir ’n breinskandering. Hulle het gevind dat die bloeding groter was as die eerste keer. Die volgende dag het dr. Burger gekom en sy reflekse getoets. Hy het verbaas na my gekyk en gesê: "Dit is onmoontlik! Die verlamming aan die regterkant is omtrent heeltemal gesond." Dit was niks anders as ’n wonderwerk nie! Op die 3de dag na die bestraling het hulle vasgestel dat sy regterlong ook platgeval het, maar hulle kon nie verklaar waarom hy geen koors gehad het nie. Ek het besef dat dit die ononderbroke gebede was wat hom aan die lewe gehou het! Die bestraling was ’n groot sukses en 2 weke later - na 2 maande in die Intensiewe Sorgeenheid - kon hy huis toe gaan. Daar was nog baie gebede en baie vasbyt nodig. Hy moes van vooraf leer hoe om ’n mes en vurk te gebruik en ook om die regterkant van sy lyf se gebruik te oefen. Tog het hy volkome herstel met die hulp van die Here! Dit is nou amper 11 jaar later en die Here loop steeds ’n pad met Johann en Johann ’n pad met die Here. Daar het baie dinge in sy lewe verander, maar die Here het hom deur alles gedra en waar een deur toegegaan het, het Hy ’n ander deur oopgemaak. As gevolg van korttermyn-geheueprobleme, asook die feit dat Johann onder geen omstandighede drukking op die brein moet hê nie, en sekere posisies dus baie ongemaklik vir hom is, is hy toe medies ongeskik verklaar vir die Weermag. Dit was toe egter ook nie so ’n groot probleem nie, aangesien sy bevordering deurgekom het net voordat hy sy pakket ontvang het. Sy medies is teruggekoop en hy kry ’n goeie pensioen. Is die Here se voorsiening nie wonderlik nie? Een van sy stokperdjies was tuinmaak en die uitleg van tuine. Hy is nou in staat om aandag hieraan te gee en volgens my is daar niemand wat beter as hy vrugtebome, rose en struike kan snoei nie. Hy leef elke dag na aan die natuur en praat heeldag met die Here. Elke dag as hy opstaan, dank hy die Here vir nog ’n volmaak geskape dag. Hy probeer ook dat daar nie ’n dag verbygaan sonder om iemand van die liefde van Jesus te vertel nie! Ons prys die Here vir Sy wonderlike genade! |