WAT HET VAN AANBIDDING GEWORD?
  "Ek ken jou werke, dat jy nie koud is nie en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit My Mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy ryk kan word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My Stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op My troon, soos Ek ook oorwin het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit het. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê" (Openbaring 3:15-22).
Christelike kerke het nou hierdie gevaarlike tydperk bereik wat lank gelede reeds beskryf is. Dit is 'n tyd waarin ons onsself op die skouer klop, gelukwens en die blye refrein saamsing: "Ons is ryk, ons het oorvloed, en ons het niks nodig nie!"
Dit is sekerlik waar dat daar vandag byna niks in ons kerke kortkom nie - behalwe die allerbelangrikste: daaglikse, ware en heilige opoffering van onsself in aanbidding van God die Vader en ons Here Jesus Christus.
Ons ís wel besig om vorentoe te beweeg. Ons bou wonderlike kerke en het groot gemeentes. Ons spog met hoë stan-daarde en het baie te sê oor herlewing.
Maar ek het 'n vraag om te vra wat nie slegs retories is nie: Wat het van ons aanbidding geword? Baie mense se antwoord sal wees: "Ons is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie. Dit bewys mos dat God ons seën!" Het jy geweet dat Jean-Paul Sartre wat so dikwels aangehaal word, sy swaai na filosofie en hopeloosheid beskryf as 'n wegdraai van 'n sekularistiese kerk? Hy sê: ''Ek het nie in die gewilde God wat aan my voorgehou is dié God herken wat vir my siel gewag het nie. Ek het 'n Skepper nodig gehad, maar is 'n groot sakeman gegee!"
Nie een van ons is so besorg as wat ons behóórt te wees oor die beeld wat ons aan die gemeenskap rondom ons uitdra nie. Ons bely dat ons aan Jesus Christus behoort en dan slaag ons nie daarin om Sy liefde en empatie aan die wêreld oor te dra soos ons behoort te doen nie!
Dié van ons wat fundamentaliste en 'ortodokse' Christene is, het die reputasie verwerf dat ons 'tiere' is - ywerige vegters vir die waarheid. Ons hande is oortrek van eelte a.g.v. die bronskneukels wat ons gedra het om die liberale mense mee te slaan. Ter wille van ons Christelike geloof is ons mos verplig om op te staan vir die waarheid en om daarvoor te stry wanneer dit nodig is. Maar daar is 'n beter manier. Ons kan baie meer bereik deur soos Christus te wees as om hulle, figuurlik gesproke, met ons kneukels oor die kop te slaan.
Die liberales sê vir ons dat hulle nie die Bybel kan glo nie. Hulle sê vir ons dat hulle nie kan glo dat Christus die Eniggebore Seun van God is nie. Die meeste van hulle is minstens eerlik daaroor. Ek is oortuig daarvan dat ons hulle nie daartoe sal dwing om die knie te buig deur hulle te vervloek nie. Ons behoort deur die Gees van God gelei te word en God se liefde aan 'n soekende wêreld te openbaar. Slegs dan word ons aantreklik sonder om daarvan bewus te wees. Die groot heiliges van weleer het nie eens geweet dat hulle groot heiliges is nie. Indien iemand dit vir hulle sou sê, sou hulle dit nie geglo het nie. Maar diegene wat hulle geken en saam met hulle geleef het, het geweet dat Jesus Sy lewe deur hulle leef. Ek dink dat ons die geledere van "innemende heiliges" betree wanneer God se doelwit in Christus vir ons duidelik word. Ons sluit by hulle aan omdat ons God wil aanbid vir wie Hy is en nie vir wat ons by Hom kry nie.
Jesus is uit 'n maagd gebore en Hy het onder Pontius Pilatus gely, aan die kruis gesterf en weer opgestaan om van sondaars en rebelle aanbidders te maak! Hy het dit alles uit genade gedoen en ons is die ontvangers hiervan! Sommige dink weer dat God 'n welsynsgeval is: Hy is soos 'n gefrustreerde voorman wat nie genoeg werkers kan kry om te help nie. Hy staan aan die kant van die pad en vra hoeveel Hom sal kom uithelp en begin om Sy werk te doen. Ag, as ons maar net sal besef Wie Hy werklik is! God het nog nooit enigiemand nodig gehad nie - nie één mens nie! Maar ons gee voor dat Hy wel so is en dan maak ons 'n groot ophef daarvan wanneer iemand instem om 'vir die Here te werk'. Inteendeel, ons moet almal maar te bly wees om vir die Here te mág werk! Dit is nog 'n voorbeeld van God se genade!
Ek reken dat niemand hom/haar moet voorneem om vir God te gaan werk alvorens hulle nie die wonder daarvan ontdek het om Hom in Gees en waarheid te aanbid nie! Slegs 'n aanbidder kan arbei met 'n ewigheidskwaliteit in sy werk. Maar 'n werker wat God nie met sy hele lewe aanbid nie, is slegs besig om hout, hooi en stoppels op te stapel vir dié tyd wanneer God die wêreld aan die brand sal steek. Ek is bevrees dat daar baie belydende Christene is wat nie sulke stellings oor hulle 'besige programme' wil hoor nie, maar dit is die waarheid. God probeer om ons terug te roep na dít waarvoor ons geskep is - om Hom vir ewig te aanbid en te geniet!
Dit is dán, vanuit ons diepe aanbidding, dat ons Sy werk mag doen. Dan sal ons nie mislei en mee-gevoer word deur vleeslike en wêreldse godsdiensprojekte nie.
Elke keer wat ons in die Bybel 'n blik kry van die hemel en God se geskape wesens, is dit een van aanbidding, blydskap en lofprysing omdat God is wie Hy is. Die apostel Johannes beskryf vir ons die geskape wesens rondom God se troon in Openbaring 4:9-11: ''En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier-en-twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur U wil bestaan hulle en is hulle geskape.'' Ek kan met veiligheid sê, met die gesag van alles wat in God se Woord geopenbaar word, dat elke man en vrou op aarde wat verveeld is met, en afkerig staan teenoor aanbidding, nie gereed is vir die hemel nie!
Ek kan egter iemand byna hoor sê: ''Is Tozer besig om weg te beweeg van regverdiging deur die geloof? Het ons nie altyd gehoor dat ons gered en geregverdig word deur ons geloof en dat ons só toegang tot die hemel kry nie?" Ek kan jou verseker dat Martin Luther nie méér in die regverdiging deur geloof geglo het as ek nie. Ek glo dat ons gered word deur geloof in die Seun van God as ons Verlosser. Maar redding word deesdae afgewater en oppervlakkig aangebied. Dít pla my geweldig. Hierdie kitsproses van saligmaking geskied soos volg: "Plaas 'n geldstuk in die muntoutomaat, trek die handvatsel en ontvang 'n kaartjie van verlossing. Sit dit in jou beursie en daar gaan jy!" Daarna kan die man of vrou sê, ''Ja, ek is gered.'' Hoe weet hy of sy? ''Ek het die muntstuk ingegooi, Jesus ontvang en die kaartjie geteken.'' Baie mooi. Daar is niks wesenlik verkeerd daarmee om 'n kaartjie te onderteken nie. Dit sal handig te pas kom sodat ons weet wie navraag gedoen het. Maar werklik, my broer en suster, ons word met 'n ander doel na God gelei. Ons ontvang verlossing deur geloof sodat ons Hom kan aanbid en vereer! Ons kom nie na God sodat ons outomatiese Christene kan wees, koekiedrukker-Christene wat met 'n vorm uitgedruk word nie!
God skenk Sy verlossing sodat ons individueel en persoonlik kragtige aanbidders van Hom kan wees wat Hom liefhet met ons hele hart en lewe, en Hom aanbid met heilige ontsag.
Daar is baie mense wat gewillig is om deel te wees van kerkrade, maar geen begeerte het om geestelike blydskap uit te straal nie. Hulle daag ook nooit op vir gebeds-byeenkomste nie. Dít is die mense wat dikwels besluite neem oor die kerk se begroting en uitgawes en watter nuwe tierlantyntjies by die gebou gevoeg moet word. Hulle is die mense wat die kerk beheer, maar hulle kom nie na aanbiddings-dienste toe want hulle is nie aanbidders nie. Miskien dink jy dat dit nie so belangrik is nie, maar wat my betref plaas dit jou in die ander kamp. Dit was vir my nog altyd 'n verskriklike ongerymdheid dat die mense wat in beheer van die kerk se sake staan en wat besluit watter rigting die kerk moet inslaan, mense is wat nie graag bid en ook nie aanbid nie. Dit raak miskien aan die nerf, maar ons moet erken dat in heelwat van ons 'goeie' kerke die vroue bid en die mans stem!
Omdat ons nie ware aanbidders is nie, bestee ons baie van ons tyd in die kerk deur net spreekwoordelik die pas te markeer. Ons marsjeer, verbrand energie, bestee ons tyd aan allerlei projekte en programme, maar kom nêrens nie. Ag mede-gelowige, God roep ons om Hom te aanbid, in die gemeente, maar ook deur ons hele lewe: waar ons beweeg, werk, of ontspan.
Wat gaan ons doen omtrent hierdie allerheiligste aanbidding waartoe God ons roep? Ek sal eerder God aanbid as om enigiets anders te doen. Ek bedoel dit uit my hart uit! Jy mag dalk antwoord: ''Indien jy God aanbid, doen jy niks anders nie." Die wonder van aanbidding is egter dat dit jou aandag juis fokus op die belangrike dinge wat vir God gedoen moet word. Luister na my! Byna elke groot daad wat in die Kerk van Christus gedoen is, so lank gelede soos in Paulus se tyd, is gedoen deur mense wat brandend was met die heerlike aan-bidding vir hulle God! 'n Studie van die Kerk se geskiedenis sal bewys dat die smagtende aanbidders ook die grootste werkers was. Daardie groot heiliges wie se gesange ons vandag sing, was só aktief in hulle geloof en aanbidding dat ons vandag net kan wonder hoe hulle alles gedoen gekry het! Groot hospitale het ontspring uit die harte van aanbiddende mans. Inrigtings vir geestesiekes het in die harte van mans en vroue ontstaan. In die tye toe die Kerk sy traagheid afgeskud, uit die slaap ontwaak en golwe van herlewing oor hom gespoel het, was dit juis die aanbidders wat deur die Gees geïnspireer en as katalisator tot hierdie geestelike vernuwing gebruik is. Ons sal dus 'n fout maak indien ons terugstaan en sê: ''Maar as ons ons aan aanbidding oorgee, sal daar niemand oorbly om die werk te doen nie." Inteendeel, indien ons ons oorgee aan God se oproep tot aanbidding, sal elkeen méér doen as wat hy tans doen. Wat elkeen dan doen, sal van betekenis wees. Dit sal ewigheidswaarde hê - dit sal goud, silwer en edelgesteentes wees, nie hout, hooi en stoppels nie! Ek begeer om saam met diegene te wees wat God van harte aanbid. Ek wil nie net deel van 'n groot kerklike masjien wees waar die leraar die sleutel draai en die masjien loop nie. Ek wens ons kan terugkeer na ware aanbidding. Wanneer mense dan kerk toe kom, sal hulle onmiddellik ervaar dat hulle tussen heiliges is, God se mense. Hulle sal kan getuig: ''God is waarlik in hierdie plek!"
[Uit: Wat het van Aanbidding Geword? A.W. Tozer, VGU, 2005].

Indeks     Index