OORLEEF IN 'N VREEMDE DOMEIN
  So dikwels gebeur dit in ons moderne tyd dat mense noodgedwonge moet ver-huis na 'n ander land. Alles is vreemd, en geweldige aanpassings moet gemaak word. Veral as 'n hele gesin verhuis. So 'n gesin moet aanpas by 'n ander taal, 'n vreemde kultuur en alles wat eie is aan daardie land. Hulle moet die wette van daardie land leer ken en gehoorsaam. Soms kan daar sprake van vyandigheid wees. Dink net hoe dit in ons eie land moes voel vir iemand wat 'n slagoffer van "vreemdelinghaat" was.
Die oorlewing in 'n vreemde land is draagliker wanneer daar nog ander mense woon wat van jou eie land afkomstig is. Dit word moontlik om 'n stukkie van jou eie taal en kultuur, sowel as jou eie gebruike en gewoontes te behou. Dít is presies wat Paulus in gedagte gehad het toe hy in Filippense 3:20 skryf, "Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus." Die Griekse woord vir "burgerskap" is politeuma. Die agtergrond van hierdie begrip is dat Filippi 'n Romeinse kolonie was. En omdat die Filippense die betekenis so goed geken het, kon Paulus dit gebruik om vir hulle iets besonders te verduidelik: 'n Romeinse kolonie (soos dit oor die wêreld heen bestaan het), beteken 'n gemeenskap van Rome, met Romeinse gebruike en gewoontes, al het hulle hulself in 'n vreemde land bevind. Die taal, kultuur en kleredrag was dieselfde as die van Rome. Hulle het die Romeinse wette onderhou, en het eintlik as Romeine voortgeleef te midde van vreemde mense rondom hulle. Só, sê Paulus, is elke weergebore mens 'n burger van die hemel. Ons is as't ware 'n hemelse kolonie. Ons onderhou God se wette en voorskrifte, dra Sy karakter, en is Sý lig in 'n donker wêreld. Almal behoort aan ons optrede te kan sien dat ons kinders van God is.
So leef die gelowige in 'n vreemde domein - die koninkryk van die Bose. Daarom is hierdie wêreld ons vyandiggesind. Paulus noem die duiwel "die god van hierdie wêreld" (2 Kor. 4:4). Johannes sê dat die hele wêreld "in die mag van die Bose lê" (1 Joh. 5:19). Tydens Jesus se versoeking sê die duiwel sélf vir Jesus aangaan-de al die koninkryke van hierdie wêreld: "Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil" (Luk. 4:6).
Die dag toe ons ons lewens aan Jesus oorgegee het, het ons ons rug op Satan en sy koninkryk gedraai. Daarom is elkeen wat so 'n oorgawe aan Jesus Christus maak, van die dag van sy weder-geboorte af in vyandskap met die Bose. Die Woord verklaar in Efésiërs 6:12, "Want ons worstel-stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreld-heersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug."
Ons moet onthou dat ons in ons aardse bestaan maar net deur-gangers is deur hierdie lewe. Petrus skryf: "Geliefdes, ek ver-maan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel" (1 Pet. 2:11). Selfs die digter en skrywer Totius het gesê: "Hierdie wêreld is ons woning nie."
In hierdie vreemde, vyandig-gesinde domein, kan ons slegs oorwin deur die krag van die Heilige Gees. In Sy Hoëpries-terlike gebed het Jesus vir Sy volgelinge gebid: "Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar" (Joh. 17:15). Ons sal oorwin deur die krag van die Woord. Ons moet die Woord glo, ons moet die Woord bid en ons moet die Woord bely. In navolging van Jesus moet ons altyd kan sê: "Daar staan geskrywe."
In Romeine 8:31 staan geskrywe: "As God vír ons is, wie kan teen ons wees?" En verder: "Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? … Wie is dit wat veroordeel? … Wie sal ons skei van die liefde van Christus, verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? … Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is ver-sekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie" (Rom. 8:33-39).
God skenk ons die oorwinning te midde van vyandige aanslae en teenkanting. "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my…" (Ps. 23:4).
Waag dit om God te glo en leef as oorwinnaar!
Dr. JJ Venter, 084 245 2338.

Indeks     Index