HOEKOM BYBEL LEES? | |
  |
Hoekom die Bybel lees as ek niks verstaan nie. Of, as ek verstaan, nie onthou wat ek gelees het nie? Daar was 'n Oupa wat iewers in die berge gebly het met sy kleinseun. Die knapie het 'n baie hoë agting gehad vir sy oupa, en soos dit maar gaan, het hy alles probeer naboots wat Oupa doen. Oupa se gewoonte was om elke oggend douvoordag op te staan, die ou koolstoof aan die brand te kry, en dan sy ou gehawende Bybel te neem en te gaan sit in die lekker warm kombuis by die tafel om daaruit te lees. Die kleinseun het soggens, net soos Oupa, ook sy Bybel gaan haal en by die kombuistafel gaan sit om daaruit te lees. Iets het die knapie egter baie gepla: "Oupa, ek weet nou nie so mooi nie," sê hy een oggend. "Ek probeer ook die Bybel lees soos Oupa, maar ek verstaan nie wat ek lees nie. En as ek die slag verstaan, dan waai dit by my ore uit, en netnou het ek alweer alles vergeet wat ek gelees het. Oupa, is dit ooit die moeite werd om nog uit die Bybel te lees? Ek meen - wat is nou die nut daarvan as ek tóg alles vergeet?" Oupa het diep gedink, en toe sien hy 'n leë steenkoolsak, wat al pikswart gevlek was van die roet, langs die stoof lê. "Boetie, gaan haal vir Oupa 'n sak vol water in die stroompie hier onder," vra hy die seun. Gretig om Oupa te plesier, spring die knaap daar weg met sy goiingsak, en hardloop stroompie toe. Dis harde werk om die sak vol te kry, maar hy byt vas, en met die sak oor sy skouer hardloop hy terug huis toe na Oupa wat sukkel om nie uit te bars van die lag nie. Natuurlik was die sak dolleeg gelek teen die tyd dat hy by Oupa aankom. "Ai man!" sug Oupa. "Jy sal maar weer moet gaan probeer jong!" Toe suiker die knaap weer af riviertjie toe met sy sak. Hierdie slag hardloop die outjie terug met sy sak water so vinnig as wat sy beentjies hom kon dra, maar steeds was dit verniet, want natúúrlik was die sak weer leeg by sy aankoms. Nee Oupa," blaas hy uitasem, "Dis onmoontlik - hierdie sak lek!" en daarmee gooi hy die sak eenkant en gaan gryp 'n emmer. "Nee Boetie," keer Oupa hom. "Ek wil nie 'n emmer water hê nie, ek wil 'n SAK water hê! Toe jong, jy kan dit mos doen! Jy probeer net nie hard genoeg nie." En daarmee gaan staan hy weer in die kombuisdeur en hou die seuntjie dop waar hy sy onmoontlike taak probeer uitvoer. Die seun het lankal besef dat hy besig is met 'n gejaag na wind, maar hy wou só graag vir Oupa probeer plesier, dat hy maar gedweë weer eens die sak in die stroompie vol maak en met sy lekkende vrag so vinnig as wat hy maar kon die bultjie ophardloop na Oupa toe. "Nee Oupa, dit werk nie!" huil-sê die outjie moedeloos. "Kyk hoe hard probeer ek, maar dit werk nie!" "Dink jy regtig dat daar niks gebeur het nie?" vra Oupa. "Kyk 'n slaggie na die sak. Wat sien jy anders aan die sak as toe jy begin het?" Met 'n vraag in sy oë bekyk die seun sy sak - wat kan Oupa tog bedoel? Die steenkoolsak is natuurlik sopnat van al die water-draery, maar skielik besef hy dat die sak nou SKOON is - al die steenkoolstof is uitgewas! "Oupa, die sak is skoongewas! Maar ek verstaan nog nie, Oupa." "Boetie," sê Oupa, "dis wat gebeur wanneer jy die Bybel lees. Miskien verstaan jy nie alles wat jy lees nie, en dalk vergeet jy amper alles wat jy so hard probeer onthou. Maar terwyl jy lees, gebeur iets met jou - jou binnekant word verander - jy word as't ware skoongewas van binne terwyl jy die Bybel lees." KAN ONS OOIT GENOEG DANK-BAAR WEES VIR DIE VOORREG OM 'N BYBEL TE KAN HÊ!! - Oorgeneem |