NASTERGAL | |
  |
Net voor die winter is talle heinings vol helder bessies. Die voëls word gelok deur die pragtige rooi en oranje bessies en menige onkundige word in die versoeking gestel om van die giftige blink bessies te eet. Kinders kan sterf as hulle dit inkry en volwassenes word baie siek daarvan. En tog word belladonna, 'n belangrike middel wat gebruik word om die pupil tydens oogondersoeke te vergroot, van nastergal gemaak. Ek was jare gelede in 'n ongeluk betrokke en kon as gevolg daarvan vir 'n week of twee glad nie sien nie. Dit het my hele lewe beïnvloed en aan bande gelê. Toe ek later 'n bejaarde blinde dame ontmoet, en sy vir my sê dat sy sedert ons ontmoeting jare tevore élke dag vir my gesin gebid het, was ek diep verootmoedig. Ek het na haar sagte gesig en haar helderblou blinde oë gekyk en was opnuut getref deur haar insig en begrip in geestelike sake. Sy het oor die blomme wat ek op haar skoot neergesit het, gestreel en my eie oë het verder oopgegaan. Ek het begin verstaan dat dit verskriklik is om blind te wees, maar nog erger om gééstelik blind en afgestomp te wees. Belladonna-druppels word gebruik om die pupil te vergroot, maar God werk in ons binneste om die oë van ons hart oop te maak. Daardeur stel Hy ons in staat om dieper te kyk, om Sy waarhede raak te sien en tot groter begrip van die waarde van ons lewens te kom. Hy werk dikwels aan die oë van ons harte wanneer ons die Bybel lees en in gebed tot Hom nader. Here God, maak asseblief die oë van ons harte oop, sodat ons U weë kan sien en verstaan. Mag U liefde, U woorde en U krag ons in ons lewens lei. "Ek laat die blindes loop op 'n pad wat hulle nie ken nie, Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. Ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk. Dit is wat Ek gaan doen, Ek gaan daar nie van afsien nie" - Jesaja 42:16 - |