SOUT WAT LAF GEWORD HET
  Kenners sê dat suiwer sout nie laf kan word nie. Sout kan nie sy samestelling verloor of verander nie. Christene ook nie. Jy ís sout. En niks anders nie. Jy is dit nie omdat jy besluit het om dit so af en toe te wees nie. Jy is dit op grond van jou wedergeboorte. Dis in jou bloed. En die lawwe sout dan? Dit is glo sout wat in só 'n mate met onsuiwerheid vermeng geraak het dat dit per volume geen sout-kwaliteit meer het nie. Wanneer selfs 'n handvol sout nie kan doen wat 'n knypie sout moes doen nie - dan het die sout laf geword! En dit gebeur as God se kinders wêreldgelykvormig in plaas van Christus-gelykvormig raak. As daar soveel onsmaaklikheid in jou eie gedagtes, woorde en dade is, kan jy mos nie meen om aan die wêreld rondom jou smaak te gee nie?
Daar is twee gevare waarteen die Christen moet waak. Eerstens wêreldgelykvormigheid en tweedens wêreldskuheid. In die eerste geval word jy gelyk aan die wêreld, sóós die wêreld, en gevolglik word jy self al hoe meer verrot. In die tweede geval word jy afgesonder van die wêreld - geïsoleer van die wêreld in so 'n mate dat die wêreld nie van jou weet nie. Dan is jy sout in 'n southouer en lig onder 'n maat-emmer. Sout moet ingeknie word en in die vleis ingevryf word. Jy moet jouself in die wêreld en vir die wêreld kan verloor - maar op só 'n wyse dat daar vir God se Koninkryk wins kan wees!

Wêreldgelykvormige mense verloor hulle hart in die wêreld.
Wêreldsku-mense sluit hulle harte vir die wêreld toe.
Jesus se dissipels (volgelinge) het 'n hart vir die wêreld.

Die Christen het deernis met die wêreld en help die wêreld juis deur nie soos die wêreld te raak, of te leef asof die wêreld nie saak maak nie.
[Uit: Leef vir Christus, Johan Smit, Struik Christelike Boeke, 1992].

Indeks     Index