DEEL UIT, KRY MEER | |
  |
Daar was lank gelede 'n boer wat wen-mielies gekweek het. Elke jaar het hy sy mielies by die Landbouskou ingeskryf en soos klokslag het hy die blou roset vir die beste mielies in die distrik gewen. Een jaar het die joernalis van die plaaslike dagblad 'n onderhoud met hom gevoer en iets baie interessants geleer rondom die boer se manier van mielieverbouing. Die verslaggewer het te wete gekom dat die boer sy aanplanting-saad met sy bure deel. "Hoe kan jy dit bekostig om jou mieliesaad te deel met jou bure terwyl hulle ook elke jaar inskryf vir die ‘beste-mielie-kompetisie’?" vra die verslaggewer aan die boer. "Maar meneer," sê die boer "het jy nie geweet nie? Die wind tel stuifmeel op van die rypwordende mieliekoppe en waai dit van saai-land na saailand. Indien my bure mielies van minderwaardige gehalte verbou, sal kruisbestuiwing stadig maar seker die kwaliteit van my mielies nadelig beïnvloed. Indien ek goeie mielies wil hê, moet ek my bure help sodat hulle ook goeie mielies verbou." Die boer was terdeë bewus van die mens se interafhanklikheid. Sy mielies kon nie verbeter tensy sy bure se mielies nie ook verbeter het nie. So is dit ook gesteld met ons lewens. Die wat in vrede wil lewe, moet ook hul bure help om in vrede te lewe. Die wat gelukkig wil wees, moet ook ander help om geluk te vind, aangesien die welstand van elkeen verbind is aan die welstand van ander. DIT IS MOONTLIK OM WEG TE GEE EN STEEDS RYKER TE WORD! Dit is ook moontlik om te styf vas te hou en alles te verloor. Ja, die vrygewige man sal ryk wees! Deurdat hy aan ander water gee, les hy ook sy eie dors. "Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek. Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf" (Spreuke 11:24-25). |