BRIEWE - GEHOORSAAMHEID EERDER AS OFFERANDE | |
  |
Annetjie Kemp van Potchefstroom skryf: Elke mens moet elke dag talle besluite neem en talle keuses maak. Een van die grootste keuses waarvoor 'n Christen te staan kom, is om gehoorsaam aan God te wees, aldan nie. Maar Samuel antwoord: "Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan Sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme" (1 Sam. 15:22 NV). Nog 'n baie groot keuse is om oor sonde te heers: "Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie - die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers" (Genesis 4:7 OV). Daar is egter baie mense wat in opstand leef teen God. Ons kan hulle "rebelle" noem. Tog behoort ons onsself te toets om seker te maak dat ons nie óók rebelle is nie! Rebelle wil nooit doen wat vir hulle gesê word om te doen nie en hulle is nooit ten volle eerlik teenoor hulself en andere nie. Ongeag wat goed of sleg is in die oë van die Here, sal 'n rebel slegs iets prysgee wat hyself as sleg beskou. 'n Rebel plaas altyd die skuld op iemand anders en bevraagteken altyd die gesag van enige ander persoon (vgl. Matt. 21:23). Niemand moet aan hom uitwys wat reg of wat verkeerd is nie. 'n Rebel is hardkoppig en onleerbaar, vol hoogmoed en eiewaan. In Jakobus 4:6 lees ons egter: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade." Mag elkeen van ons met 'n opregte en nederige hart voor die Here wandel! |