WONDERWERKE GEBEUR NOG!
 

Hoeveel keer vra 'n mens jouself die volgende vrae: "Sien God my raak?" of "Is ek spesiaal vir Hom?" Die antwoord is JA! God het nie voorvereistes nie. As Hy jou wil seën, gaan kyk Hy nie hoe jou huis lyk, watter soort motor jy ry, hoe suksesvol jy is, of wat jou ouers doen nie.
Ek is ook net 'n gewone mens, maar ek is 'n geseënde mens. So dikwels sien 'n mens nie al jou seëninge raak nie. Drie jaar gelede is ek gediagnoseer met antifosfolipied-sindroom ('n toestand waar jou are verdun en bloedtoevoer verhoed). Dit was hospitaal toe met my en 'n reeks medikasie is aan my toegedien. 'n Jaar en 'n half later is ek gediagnoseer met glomerolonefritis (SLE - Lupus is ook genoem). Weer hospitaal toe en nóg medikasie.
Later het floutes my dikwels oorval. Dit was as gevolg van die verskillende soorte medikasie wat teen mekaar begin werk het en my liggaam kon dit nie meer hanteer nie. Die laaste opsie was chemopille.
Vir 'n jong meisie is voorkoms baie belangrik. My lyf was alreeds baie opgeswel van al die kortisoon wat ek moes inneem. Dit was nie lank voor die chemopille ook sy tol begin eis het nie. My hare het begin uitval. Enige meisie se nagmerrie!
'n Paar maande later het ek begin opmerk my oë se wit begin geel voorkom. Terug dokter toe en dadelik is ek weer in die hospitaal opgeneem met lewerversaking! Dis die laaste plek waar ek wou wees. Ek kon nie meer slegte nuus hanteer nie. Ek het gevoel ek is uitgehuil, uitgeglo en uitgebid. As dit nie vir my familie se ondersteuning was, en mense wat my gemotiveer het nie, is ek nie seker waar ek vandag sou wees nie.
Drie weke lank in die hospitaal is genoeg om enige mens twee keer aan alles te laat dink. Hoekom gebeur dit met my? Hoekom word ek nie gesond nie? Is daar iets wat ek mis? 'n Boodskap wat ek dalk nie kry nie? Ek het die volgende woorde een aand iewers gehoor en dit het my baie lank laat dink: "Your mess will be your message and your test will be your testimony." Was hierdie my toets?
Vandag is dit agt maande, baie trane, en baie gebede later. Ek gebruik geen medikasie nie. Ek het meer hare as wat ek nog ooit gehad het. Die dokter kan amper nie sy oë en die toetse glo nie - die siekte is so te sê weg! Ek begin besef dat ek geseënd is met wonderlike mense in my lewe. Ek het ook geleer dat God my raak-sien en dat ek vir Hom spesiaal is.
Hy het my genees! 'n Wonderwerk het met my, maar net 'n gewone mens, gebeur!
Wat my skeppingsdoel nou is, weet ek nog nie. Maar ek weet wel dat iets groots vir my in die toe-koms voorlê. Satan wou my kom slag. En as ek alleen was, het hy dit dalk reggekry. Maar God is aan my kant!
As God dit vir mư kon doen, dink net wat Hy alles vir jou kan doen! Niks is té klein of té groot vir Hom nie. Alle eer aan God die Vader. Mag Sy Naam geheilig word en mag almal sien hoe GROOT is my God!

Indeks     Index