DIE ARMES VAN GEES | ||
  |
Laat ons vir 'n wyle die woorde van Jesus in Matt. 5:3 oor-peins: "Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele." In Luk. 6:20 staan geskrywe: "Salig is die armes." Bedoel Jesus letterlik hier die armes? Indien wel, sou dit beteken dat alle arm mense hemel toe gaan! Nee, 'n mens kan arm wees sonder dat hy "arm van gees" is. Armoede is ook geen waarborg vir geestelikheid nie. Jesus bedoel hier ook nie die swaksinniges nie. Op grond waarvan sou 'n mens dan hierdie verklaring kon maak? Die Griekse woord vir "armes" is ptochoi. Hierdie woord beskryf nie slegs die arme nie, maar die een wat heeltemal brandarm of hulpbe-hoewend is. Hy het glad niks nie. Daarom word hierdie woord ook gebruik vir "bedelaar". In die Ou Testament is die Hebreeuse woord ani vir arme, wat in sy betekenis deur verskillende ontwikkelingstadiums gegaan het, maar wat uiteindelik beteken die wat arm en getrou is, wat geen hulp op aarde het nie, en wat homself in volle vertroue aan God verbind het. Daarom sê die Psalmis: "Hierdie ellendige (ani - ook arme) het geroep en die HERE het gehoor, en Hy red hom uit al sy benoudhede" (Ps. 35:10; 40:17; 72:2). Bring die Grieks en Hebreeus bymekaar en "armes" beteken die persoon wat sy eie onbevoegdheid, onwaardigheid en hulpbehoe-wendheid besef en sy volle vertroue in God stel. Dit beskryf die persoon wat tot die volle besef gekom het dat die lewe vir homself onmoontlik geword het - hy het God se hulp en krag nodig, elke dag - oomblik na oomblik en hy plaas sy volle vertroue in God. Hy is ten volle afhanklik van God. Spr. 3:5 sê: "Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie." Matthéüs se "armes van gees" en Lukas se "armes" dui dus op dieselfde persone, want dieselfde Griekse woord word deur albei gebruik (ptochoi). Om "arm van gees" te wees, beteken dus om van hoogmoed en selfverheffing ontslae te wees. William Fitch beskryf dit so: "The man who is poor in spirit is a man who has come to the end of himself. He sees that not only has he no assets but he is terribly and desperately in debt. Pride and self-reliance and personal confidence disappear. He stands alone before God and acknowledges that in himself he has nothing and is nothing." Charlotte Elliot beskryf dit in 'n lied: Just as I am - poor, wretched, blind; Sight, riches, healing of the mind, Yea, all I need, in Thee to find, O Lamb of God, I come! Die Nuwe Vertaling stel dit so mooi: "Geseënd is dié wat weet hoe af-hanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel" (Matt. 5:3). Jesus kan slegs die hart vul wat leeg is van die self. Die persoon wat homself verloën het, die "ek" gekruisig het, word arm van gees - daar is niks in homself waarop hy kan roem of vertrou nie. Hy kan slegs maar op God vertrou. Hierdie persoon word salig gespreek. God wil hê dat elke gelowige hom aan God sal onderwerp. Indien jy dit nie doen nie, sal jy sterf aan jou eie hand in die woestyn en nie ingaan in die Beloofde Land van Sy seën nie. Die sleutel tot God se seën in jou lewe is om op die plek te kom waar jy jou algehele afhanklikheid van Hom besef. Dan word dit maklik om op Hom te vertrou en Sy seën te ontdek in jou lewe. Dit is egter verbasend om te lees: Aan dié wat arm van gees is, "…behoort die koninkryk van God." As die Heiland só praat, is dit die weerklank en bevestiging van die beloftes van die Ou Testament: "Ek woon … by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die hart van die verbryseldes" (Jes. 57:15). Geestelike bedelaars ontvang dus die ewige rykdom van die belofte - dat hulle eenmaal saam met Christus sal regeer. God maak van bedelaars konings, maar die heerskappy begin nou reeds in ons harte! Dr. JJ Venter |