DAAR IS LIEFDE IN ONS VINGERPUNTE
  Hendrik het met 'n merkwaardige reputasie na die kinderhuis gekom. Die laaste van 'n reeks oortredings was dat hy op 'n Saterdagmiddag met 'n rekker meer as 150 klein brandglas-venstertjies van 'n kerkgebou in Cottesloe uit hul loodomhulsels laat tuimel het. Cottesloe het vir hom, soos vir ander mense wat ek ken, 'n waterskeiding geword; hy is as gevolg daarvan deur 'n landdros na die kinderhuis gekommitteer. Op vyftien jaar was hy 'n klipharde seun uit die strate van 'n ewe harde Johannesburg in die algemeen, en Hillbrow in die besonder. Op vroeë leeftyd was hy reeds so ontnugter soos 'n volwassene. Daar was weinig kwaad wat sy oë nie gesien, of waaraan hy nie deel gehad het nie. Die merktekens van sy veelbewoë bestaan was duidelik op sy tenger liggaam geskryf; en die gemoedsletsels wat geheel moes word, was legio. Maar Hendrik het vitaal, polsend en intens geleef. Elke oomblik was vir hom 'n avontuur wat deurleef moes word, maar ongelukkig op 'n totaal negatiewe wyse. Ongemanierd, uitdagend en gesagsonder-mynend het hy van dag tot dag die personeel getart. Omdat lyfstraf 'n verbode tugvorm was en slegs in uitsonderlike gevalle toegepas is, het dit van ons almal vindingrykheid geverg om strafmetodes te ontwerp wat by die kinderhuis se opvoedingsprogram sou inpas. Selfs die mense by die sielkundige afdeling was radeloos. Geen wonder dat sy huismoeder na twee weke die handdoek ingegooi het, en gedreig het om summier te bedank indien Hendrik nie uit haar huis verwyder word nie. Ter wille van die ander kinders en die huismoeder se behoud, het ons hom in ons huis opgeneem. Toe volg daar veertien dae wat ons liefs uit ons geheue sou wou vee. Ons is getref deur die volle geweld van 'n verbitterde, opstandige jongmens wat 'n werktuig van die bose geword het. Nors en stug het hy niemand gegroet en met niemand gepraat nie. Etenstye het hy op sy stoel neergeplons en sonder om te wag vir die tafelgebed, 'n demonstrasie van ewigdurende beweging gelewer soos hy die kos na sy mond gekarwei het. Ons kinders was verstom. As hy klaar was, het hy sy bord vorentoe gestamp, sy stoel agteruit gestamp en sonder 'n "dankie" die kamer uitgestap. As jy hom soek, kon jy net oplet waar 'n rookdamp om 'n hoek verdwyn. Almal het in spanning gewag op die kataklismiese botsing wat moes kom. My vrou het gekeer en gesoebat, maar my hande het bly jeuk.
Toe sterf sy pa skielik en onverwags. Miskien nou, het ek gedink. Maar skynbaar het dit geen indruk hoegenaamd op Hendrik gemaak nie - behalwe dat sy bloedrooi skaalmodel Jaguar-motortjie, waarop hy mateloos trots was, een oggend verfrommel, verdraaid en inmekaargedruk op my lessenaar lê - 'n soort uitdaging, of dalk 'n noodkreet uit die hart...
Daardie aand sit ek laat en werk in die studeerkamer, toe ek 'n hartroerende gesnik hoor. Ek haas my na ons oudste seun se kamer, maar hy lê rustig en slaap. Langs hom lê Hendrik, wat die kamer met hom deel. Ek kon nie glo wat ek sien en hoor nie: hierdie hardvogtige knaap, so klipsteenhard, wat ek gedink het geen trane en geen hart het nie, lê en snik dat sy bed skud.
Ek gaan sit sprakeloos langs hom op die bed. Heelwat later kon ek my verbasing onder woorde bring: "Wat makeer Hendrik? Is jy ongelukkig hier by ons?" Driftig skud hy sy kop. "Verlang jy huis toe? Is dit jou pa se dood?" Telkens skud die trotse kop en telkens blink die trane. Aanvanklik kon hy nie praat nie, maar uiteindelik kom die verduideliking deur die snik-ke heen: "Dis nie pa nie, dis Oom en Tannie. Oom vat altyd aan my hare as Oom verbystap en Oom tik my in my ribbes. Daar was liefde in Oom se vingerpunte. Elke aand as Tannie julle kinders kom toemaak en nagsoen, het sy vir my dieselfde gedoen. Niemand het my in my hele lewe toegemaak of naggesoen nie! Ek weet nie wat liefde is nie, maar ek dink dit sit in Oom en Tannie se hande."
"En die model-Jaguar?" het ek gewaag om te vra. "Oom, toe ek hoor my pa is dood, het ek niks gevoel nie. Hy het my nie liefgehad nie. Daar was by my geen hartseer of droefheid oor sy dood nie. Toe dink ek dat as ek my motortjie aan flenters breek, sal ek hartseer wees en sal ek kan huil, en miskien beter voel. Maar vanaand toe die tannie my soen, het dit hier-binne gebreek. Ek kan nie sonder liefde aan-gaan nie, Oom. Ek is jammer dat ek so onbeskof en ongehoorsaam was. Sal julle my ver-gewe en my help?" Hendrik het radikaal verander, en 'n gerespekteerde en geliefde seun in die kinderhuis, en die skool geword. Hy het nie net liefde ontdek nie, hy het ook die Bron ontdek - Jesus Christus. As hoofseun van die skool het hy 'n A-gemiddeld in die eindeksamen behaal. Vandag leef hy as 'n nuttige burger van sy land en kerk; hy het 'n pragtige en gelukkige gesinnetjie van sy eie. Elke keer as ek van Hendrik hoor, onthou ek: Daar is liefde in 'n mens se vingerpunte!
Uit: Stille Vertroue: 40 Oomblikke Wat My Lewe Verander Het, Solly Ozrovech, Carpe Diem Boeke (2007).

Indeks     Index