WAT BETEKEN DIT OM TE STERF AAN JOUSELF?
  By geleentheid het 'n jongman by die bekende evangelis DL Moody aangekom en vir hom gevra: "Wat beteken dit om te sterf aan jouself?" DL Moody het opgestaan, by die deur uitgeloop met die jongman al agter hom aan. Moody het straataf geloop en uiteindelik by die begraafplaas uitgekom.
By een van die grafte het hy gaan staan. "Sê die persoon wat in hierdie graf lê sleg," het Moody vir die jongman gesê. Die man was baie verbouereerd en wou aanvanklik nie. Hy het dan nie eers die persoon wat daar lê, geken nie.
Moody het hom aangemoedig. Uiteindelik het die jongman 'n paar negatiewe woorde uitgekry. Daarna het Moody vir hom gesê: "Prys hom nou, vertel hom hoe goed hy is, gebruik die heuningkwas." Die jongman was nou heeltemal uit die veld geslaan. Hy het 'n paar woorde uitgekry en toe vra Moody vir hom: "Wat het die man gedoen toe jy hom sleg gesê het?"
"Niks nie," het hy geantwoord, "want hy is dood!" Weer het Moody gevra: "En wat het hy gedoen toe jy hom geprys het?" Die jongman het geantwoord: "Meneer Moody, die man is dood. Hy het niks gedoen toe ek hom geprys het nie." Daarop het Moody tevrede geglimlag en geantwoord: "Dit is wat dit beteken om te sterf aan die self, om dood te wees vir die self."
- Oorgeneem

Indeks     Index