WARE VERHALE
  'n Jeuggroep in 'n sekere stad het een dag gesit en praat oor wie in hulle skool die onwaarskynlikste jongmense is om ooit tot bekering te kom. Hulle het 'n top-tien-lys gemaak. Een van die jeuggroep stel toe voor dat hulle vir hierdie 10 sal begin bid. Na drie maande het hulle hierdie 10 jongmense na 'n jeugkamp toe genooi. Nege van hulle het teen alle verwagting gekom. Agt het daardie naweek Jesus as Verlosser gevind en die negende een het 'n maand later 'n oorgawe gemaak.

George Müller het as 'n jongman vir vyf van sy vriende se redding begin bid. Na 6 jaar het die eerste een tot bekering gekom, 'n tweede na 11 jaar, en die derde een na 26 jaar. Die vierde een het na 50 jaar 'n oorgawe gemaak en die laaste een het by George Müller se begrafnis, na 52 jaar se gebed, 'n oorgawe gemaak! Nadat hy vir 38 jaar gebid het, het iemand vir hom gevra of hy glo God sal daardie twee manne nog red as hulle na 38 jaar se gebed nog nie tot bekering gekom het nie. Müller het geantwoord, terwyl dit lyk asof daar vuur uit sy oë flits: "Dink jy God sou my vir 38 jaar vir hierdie twee manne laat bid as Hy hulle nie wou red nie?"
'n Gemeente in 'n sekere stad het agtergekom dat daar vir 'n paar jaar na mekaar geen nuwe bekeerlinge by die gemeente bygevoeg is nie. Hulle het 'n gebedskaart ontwerp en dit aan die begin van die volgende jaar vir alle lidmate uitgedeel om in te vul. Elke lidmaat het vir ses of sewe ongeredde mense begin bid en deur gesprek en getuienis na hulle begin uitreik. By 'n spesiale erediens is die duplikaat-strokies ingeneem, in 'n groot bak voor in die kerk geplaas, en die leraar en gemeen-teleiers het daaroor gebid. Vir die res van die jaar het elke lidmaat vir die ses of sewe name op sy gebedskaart gebid en weekliks het die leiers oor die bak vol kaarte gebid. Wanneer iemand tot bekering gekom het, is daar die daaropvolgende Sondag 'n rooi roos voor in die kerk neergesit. Die aantal bekeerlinge het so toegeneem dat hulle uiteindelik een roos vir elke 50 persone moes neersit. Tans volg hulle hele denomi-nasie hulle voorbeeld.
(Pamflet verskaf deur NUPSA, 2000).

Wil u nie ook begin om daagliks vir die redding van u vriende en kollegas te bid nie?

Indeks     Index