TUSSEN HAMER EN AAMBEELD
 

Kleintyd op die plaas het ek kennis gemaak met 'n blaasbalk. Dit was 'n bruikbare instrument om yster mee te smee. Dit werk met steenkool wat in die kolebak gegooi en aan die brand gesteek word. Die ysterstaaf word in die brandende kole geplaas, en wanneer die slinger gedraai word, blaas dit die vuur aan wat dan teen 'n baie hoë temperatuur brand. Die yster word rooiwarm en is dan gereed om op die aambeeld geplaas te word en met 'n stewige hamer gevorm te word. My taak was om die blaasbalk se slinger te draai om die yster te verhit.
"Tussen hamer en aambeeld" is ‘n Nederlandse uitdrukking wat beteken dat ons "tussen twee slechte dingen moeten kiezen". Tog hou hierdie gedagte vir my 'n dieper betekenis in:
¦ Die smid vorm die yster soos hy dit wil hê.
¦ God, ons Heer en Meester vorm óns ook soos Hy ons wil hê.
'n Karakterstudie van Abraham, Sara, Isak, Rebekka, Josef, Jakob, en talle ander Bybelse figure dien tot ons bemoediging, want daarin sien ons hoe God elkeen van hulle gevorm het soos Hy wou.
Elkeen van hulle het sterk karaktereienskappe gehad, maar ook swakhede en gebreke.
God smee ons ook tussen hamer en aambeeld nadat ons in die vuur van loutering gekom het. In Ps. 66:10 sê die Psalmis: "Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter." Job sê: "Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud tevoorskyn kom" (Job 23:10).
God is voortdurend besig om jou en my 'n toonbeeld van Sy liefde te maak. Maleági 3:3 lui: "En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring."
God wil my 'n pronkstuk vir Hom maak. Ek moet 'n kanaal wees waardeur Hy Sy liefde op ander kan uitgiet. Ek is van nature nie wáárlik liefdevol teenoor my medemens nie, want alles uit myself is vleeslik en kan Hom nie behaag nie. Daarom neem Hy ons dikwels deur 'n proses van loutering waarin ons leer om aan Hóm vas te hou en in Hom te groei sodat die vyand ons nie van Hom kan losruk nie. Jesus sê, "En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit My hand ruk nie" (Joh. 10:28). Ons moet in Hóm geanker wees om die storms van die lewe suksesvol te kan trotseer.
Op die grens van die plaas waar ek grootgeword het, was 'n plek met die naam "Wondergat". Daar word vertel dat die "Wondergat" vol water was gedurende die oorlogsjare (Tweede Vryheids-oorlog). In ons tyd was dit droog maar met pragtige natuurskoon, met kranse waar die bome hul binne-in die rots gevestig het.
Só wil God hê moet ons ook binne-in die Rots groei. Dis moeilik om in die Rots wortel te skiet, maar genadiglik bied die Rots skeurtjies en dan kan jy stewig geanker word en geen storm sal jou uit die Rots kan skeur nie. Jy hou aan die Rots vas. Méér nog, die Rots hou jou vas! Laat ons tot die Groot Beeldhouer bid: "Vorm my en maak my net soos U wil, totdat ek aan U Beeld gelykvormig is. "
© Dr. JJ Venter

Indeks     Index