SYSIE
  Vanoggend het Mark my kom roep. Mark, die "drag queen". Hy is Sysie se enigste oorblywende vriend uit die dae toe sy nog 'n gesogte prostituut in die klubs hier rond was. Want toe Sysie vir die Here lief geword het en haar rug op haar ou lewe gedraai het, toe draai al haar vriende ook die rug op háár. Net "ou Markie" soos sy hom noem, het vir haar lief gebly.

En nou het Mark my kom haal, want Sysie sukkel om asem te kry en hy is bang sy gaan dood. So stap ek en die man in vroueklere deur Hillbrow se strate. Niemand kyk twee keer na die jongman met die rooi hakskoene en swart sykouse, rooi lipstiffie, blou oogskaduwee en vals wimpers nie. Dit is immers Hillbrow.

Uit Sysie se grysvaal woonstelblok op Quartsstraat se hoek klink Neil Diamond oorverdowend op. "Dis Steve," mompel Mark. "Ou Tony in nommer 104 speel daai CD oor en oor. Hy sê ou Steve sing Neil Diamond se songs beter as Neil self."

Teen die wit lakens in die donker woonstel, nommer 109, sit die tingerige figuurtjie. Die wit beddegoed was my Kersgeskenk aan haar. Sy het altyd gedroom, só het sy my vertel, van haar ridder wat haar op 'n hemelbed sou neerlê, en op sulke lakens.

Maar die ridder het nooit gekom nie. Daar was net vreemde mans, wat haar betaal het. Wat haar verniel het, soos destyds ook haar pa.

Sy haal swaar asem. Debora Gertruida Smit. Sysie, die gewese prostituut. Sy het kanker in haar eierstokke. Lánk het sy geglo dit is die Here wat haar juis in dáárdie deel van haar liggaam straf. Vandag weet sy: Haar dronk pa het haar verwerp, maar haar hemelse Pa het haar lief.

Nou wil Sysie eers 'n gebed hê voor ons die ambulans mag bel om haar te kom haal. Ek en Mark vou die brose handjies in ons s'n. Ons maak ons oë toe. 'n Heilige oomblik... Toe lui my selfoon.

"Is dit Elise wat in LIG skryf?" vra die vrouestem.
"Ja, dit is ek, maar kan ek dalk later terugskakel? Ek is nou hier by 'n baie siek mens."
"Nee, wag asseblief!" pleit die stem. "Ek kan jou dalk help. Ek weet nie waarmee nie, maar praat asseblief eers met my!"
Ek verduidelik van Sysie met die kanker en van haar asemnood, en van die ambulans wat ontbied moet word.
"Elise," kom die antwoord, kalm, "gee my asseblief die adres. Ek kom dadelik daarheen. Hierdie is 'n afspraak wat ek met die Here het."
"Nee, wag," keer ek, "jy kan nie nou hierheen kom nie. Hier is groot nood, ek sal jou later terugbel."
Die stem word nog rustiger: "Ek is besig met my stiltetyd. En ek het pas die opdrag gekry om jou te bel. Ek glo dit is van die Here." Sy huiwer 'n oomblik, vervolg dan: "Ek is 'n opgeleide verpleegster en 'n vrywillige werker by Hospice. Ek versorg sterwende mense. Dit is my roeping. Moenie die ambulans bel nie; wag vir my."
Ek wag haar op die hoek van Quartsstraat voor 'n vuil woonstelgebou in. 'n Motor met "Rose's Taxi" daarop stop by my en die engel klim agter uit. 'n Goedversorgde, netjiese ou dame in 'n spierwit uniform.

Toe sy Sysie se dun, koue handjie in haar warm verpleegsterhand toevou, begin Sysie huil.
"Ek was so bang vir die ambulans wat my sou kom haal. Ek wil nie in daai hospitaal se koue bed doodgaan nie. Ek is bang. Ek wil in my eie bed wees, met die foto van my ma en my sussie teen die muur. Ek is Debora Getruida Smit, oudste dogter van Gesie Smit, daar op die foto. En daar langs haar is my sussie, Tienkie. Ek wil na hulle gesigte kyk as ek sterf, want hulle wag reeds vir my."

Sysie het toe nooit die nag gehaal nie, en die LIG-engel was die hele tyd by haar, tot aan die einde. Sy het morfien saamgebring om Sysie se laaste ure pynvry te maak. En sy het haar 33-jarige pasiënt se hand vasgehou terwyl dié na haar ma en sussie se foto gestaar het. Totdat sy uiteindelik in 'n koma gegaan en rustig gesterf het.
- Elise Bosch, elise@lig.co.za
Naskrif:
Die engel het my beveel, nogal kwaai: "Jy mag die storie skryf, maar jy noem nié my naam nie! Wat my betref, maak die Bybel dit baie duidelik dat jou regterhand nie mag weet wat die linkerhand doen nie. Alle eer kom die Here toe, nie vir mư nie."

Elise Bosch werk die afgelope 21 jaar in Hillbrow waar sy alle verwaarloosde en swaarkry-mense op verskillende maniere help. Elise is beskikbaar vir optredes by gemeente- en ander funksies. Skakel haar by 083 484 9088. [LIG, September 2012].

Indeks     Index