HELP DIT? | |
  |
Daar het weer 'n olietenkskip naby die kus op die rotse geloop. Die wit strande was kilometers aaneen met 'n swart laag olie bedek. Daar was ernstige skade aan die seelewe. Die vrou met die oop hart vir mens en dier was al vroegoggend die volgende môre by die see, kniediep in die water. Elke oliebesmeerde seevoël wat sy kon bykom, is kant toe gebring en sorgvuldig skoongemaak. Maar dit het na 'n hopelose taak gelyk: Vir elkeen wat gehelp is, was daar dosyne ander wat hulpeloos in hul swart oliejasse rondgespartel het. Dag vir dag het die vrou voortgegaan, al was die vordering skynbaar minimaal. Later het 'n klomp skoolkinders haar kom help, maar nog steeds was die aantal besmeerde seevoëls en pikkewyne nimmereindigend. Een middag vra 'n siniese toeskouer: "Hoekom gee julle nie maar die stryd gewonne nie? Watter verskil kan julle moeite tog maak aan 'n ekologiese ramp van dié omvang?" 'n Jong seun het die antwoord gegee. Terwyl hy 'n seemeeu met wit gewaste vlerke die lug in stuur en dié koers kry oor die see, roep hy uit: "Dit maak 'n verskil vir hierdie een!" "Waar iemand ook al op aarde, in die Naam van Christus in die hemel, probeer om diens te lewer, probeer om van hierdie wêreld 'n leefbaarder, vriendeliker, veiliger plek te maak, is die Heilige Gees besig om midde-in die winter van hierdie wêreld lentebloeisels te laat bot, tekens wat verkondig: God se somer kom!" (Flip Theron) [Uit; Stories vir die Lewe Omnibus, Piet Naudé, Lux Verbi.BM, 2002] |