KOM PHILIP, EK WIL JOU HÊ! | |
  |
My eie bekering was radikaal - amper soos Paulus s'n op die pad na Damaskus. 'n Drastiese ommekeer! 'n Omdraai na God toe, toe ek Jesus aangeneem en Hy in my hart kom woon het. Die Bybel sê: "Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van Sy liefde" (Kolossense 1:13). Om hierdie rede het radikale bekerings van ander mense my ook altyd aan die hart gegryp. Ek onthou een so 'n persoon, jare gelede. Sy naam was Philip. 'n Swart man in wie se lewe ek duidelik die Here gesien het. Hy het my van sy bekering vertel: "Ou Philip, hy was binnekant by die asblik. Die deksel hy was toe. Toe kom die Here Jesus, Hy haal die deksel af en Hy sê: 'Kom Philip, Ek wil jou hê!' Hy trek my toe uit die asblik uit, en maak my skoon van al die vuil dinge in my lewe. Hy het my 'n nuwe lewe gegee. Hy het in my hart kom bly." "Toe gaan roep ek al daai vrouens saam met wie ek bier gedrink het en baie ander lelike dinge gedoen het, en toe sê ek vir hulle: 'Hierdie Philip is die NUWE Philip! Hy doen nie meer die lelike dinge nie! Hy loop nou die pad van die Here!' Nou is ek bly dat die Here Jesus elke dag met my is, en ek wil tot die einde saam met Hom die pad loop!" Onthou, jy is NOOIT te vuil vir die Here om jou te red nie! Soos die tollenaar wat die "regverdige" Fariseër se gebed in die tempel gehoor het. Die Bybel sê: "En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!" (Lukas 18:13). En God het hom verhoor! So hoor Hy nog steeds as ons Hom aanroep! © Dr. J J Venter |