EENSAAM, MAAR NIE ALLEEN NIE...
 

Dit was sy wat haar oorlogskip, die Gelderland, gestuur het om ou president Kruger te gaan haal op sy epiese tog na Europa waar hy die saak van die twee Republieke wou gaan bepleit. Die Duitse keiser wou hom nie spreek nie. En die Franse president het hom uit vrees vir internasionale repurkussies vermy. Maar sy was nie bang om haar solidariteit met president Kruger in woord en daad te bewys nie.

Baie jare later, op 10 Mei 1940, toe die volle geweld van Hitler se militêre masjien haar klein landjie genadeloos vertrap het, en sy self die strande van haar vaderland as balling moes verlaat, het sy haar beroemde "Vlammende Protes" teen die Duitse besetting uitgevaardig en haar op die hulp van 'n Hoërhand beroep. Hierdie beroep was nie tevergeefs nie. Sy sou terugkeer. Sy het gewéét dat sy sou terugkeer. Maar sy het ook geweet dat sy sou moes wag. Sy was bereid om te wag. Want sy het geleer dat hy wat glo, soos Jesaja sê, nie haastig is nie.

Hierdie merkwaardige vrou, koningin Wilhelmina van Nederland, van wie Churchill by geleentheid gesê het dat sy die enigste "man" in die Nederlandse Kabinet is, is op 31 Augustus 1880 in Den Haag as die enigste kind van koning Willem III gebore. Op 6 September 1898, agt jaar na haar vader se dood, is sy in die Amsterdamse Nieuwe Kerk as koningin gekroon en het sy die harte van die Nederlandse volk met haar grasie en haar glimlag vir goed verower. Vyftig jaar lank, tot by haar abdikasie in 1948, sou sy die lotgevalle van haar volk, hul wel en wee, hul vreugde en smart, neerlaag en oorwinning, ten diepste meemaak.
Aan die nodige geestelike toerusting het dit haar nie ontbreek nie: sy het haar van vroeg reeds met die dinge van die Here besig gehou, alhoewel haar groei in die geloof 'n stap-vir-stap ervaring was - 'n helderder en dieperwordende belewenis soos die jare gekom en gegaan het.

As kind het sy twyfel geken. Sy vertel hoe sy geworstel het met die ou, ou probleem van geloof en wetenskap: is die Bybel se skeppingsverhaal die regte een, of het die natuurwetenskappe die antwoord? Maar as jongmeisie het sy reeds tot die belangrike geestelike slotsom gekom: dat die dinge van God nie enkelvoudig is nie, dat ons Sy leerlinge moet wees en op Sy leiding moet wag, dat daar baie vraagtekens oor die leiding van God ontstaan en dat Sy Groot Plan dikwels tragies planloos lyk. Haar insig dat die gelowige moet wag, dat God mettertyd sekere vaaghede invul, dat daar geen maklike antwoorde is nie, en dat die patroon na verloop van jare dikwels makliker te verstaan is, was 'n sprong in haar geestelike ontwikkeling wat die grond vir verdere wonderlike ervaringe met God voorberei het. Met haar gebedshouding van "wag op God totdat Hy kom," het sy die venster van haar hart wyd oopgemaak en kon die fris wind vanuit die ewigheid inwaai.

In die veelbewoë oorlogsjare van 1914 tot 1918 het sy haar land se neutraliteit ten strengste gehand-haaf en al die menigvuldige probleme wat daarmee saam-hang, die duisende Belgiese vlugtelinge, die verwagte Duitse offensief en die daaglikse diplomatieke knope, kalm en beheers gehanteer. In tye soos hierdie is 'n regeerder eensaam. "Maar," skryf sy, "die groot eensaamheid in dié dae was my kans met God. Gedurig, as die probleme van die stryd my aandag opgeëis het, het my gedagtes uiteindelik by die 'stry van die goeie stryd' uitgekom."

Ná die oorlog, in die twintigerjare, sou sy 'n kennelike geestelike verdieping ondergaan. Sy het kennis gemaak met die geskrifte van die beroemde Indiese Christen, Sadhu Sundar Singh, en sy oproep tot 'n ware, lewende verhouding met Christus. Haar studie van die Skrif het haar in hierdie dae bewus gemaak van 'n groot geestelike honger in haar binneste, van 'n verlange om intiemer met God te wandel. Geleidelik het sy begin insien dat daar 'n aansienlike verskil is tussen die verneem van die waarheid en om dit jou eie te maak.

"Christus het my gelei," skryf sy in haar outobiografie Eenzaam maar niet alleen, "na die bele-wenis van die oorweldigende werklikheid van Wie Hy is, en dit was asof ek nou vir die eerste keer die Boodskap verneem het. Wat dit alles in 'n lewe beteken in terme van ongekende bevryding - ruimte - blydskap, en aan algehele ommekeer, kan nie maklik in woorde uitgedruk word nie."

Hierna het vir haar 'n tyd van sware beproewing gevolg, onder meer die heengaan van haar moeder en die skielike dood van haar geliefde eggenoot, prins Hendrik van Mecklenburg, "'n man in wie die Christelike liefde soos 'n heilige vuur gebrand het", soos sy van hom getuig het. "Ons het albei die geloofsekerheid gehad dat die dood die ingang tot die ewige lewe is en daarom het ons mekaar belowe dat, in die geval een van ons te sterwe sou kom, dit 'n wit begrafnis sou wees. Volgens hierdie belofte het ek nou gehandel." Die wit begraf-niskoets, getrek deur agt wit perde, en die familie almal in wit geklee, het 'n onuitwisbare indruk gemaak op die duisende Nederlanders wat in stilte langs die strate gestaan het as laaste eerbewys aan 'n geliefde prins. Maar die uur van Wilhelmina se grootste beproewing was naby. Diplomatieke koeriers het verontrustende berigte uit Nazi-Duitsland gebring. Reeds in 1938 het sy begin insien dat oorlog in Europa onvermydelik was, en dat Hitler nie tevrede sou wees voordat hy baas was van die hele Europa nie. Toe die kwade dag in 1939 aanbreek, het sy, soos in die vorige oorlog, 'n beleid van stiptelike neutraliteit gevolg.

Maar Hitler was nie die Keiser nie, en Holland was te belangrik vir sy Blitzkrieg om hom aan neutraliteit te steur. Sonder die minste waarskuwing het Duitse pantser-divisies die Nederlandse grens oorgesteek en honderde valskermtroepe is oor Den Haag neergelaat. Die klein laelandjie by die see het gesteier onder die geweld van die Duitse militêre masjien en was binne enkele dae volkome uitgelewer aan die genade van die veroweraar.

Op aandrag van haar ministers moes Wilhelmina die land verlaat om vanuit Engeland 'n regering in ballingskap te lei. Voor haar vertrek het sy saam met haar hele personeel op haar knieë gegaan en ernstig vir haar vaderland gepleit. Daarna het sy hulle gegroet, self haar koffertjie geneem en statig, deur en deur koningin, na die wagtende motor gestap wat haar na die Hoek van Holland sou neem.

"Dit het vir my duidelik geword," skryf sy oor hierdie donker dae, "hoe Job langs die énigste weg, die weg van beproewing, die ware instelling teenoor God en die lewe moes leer." En sy haal die Nederlandse Gesangvers aan:
Nooit kan't geloof te veel verwachten,
Des Heilands woorden zijn gewis.
't Faalt aardse vrienden vaak [dikwels] aan krachten,
Maar nooit een Vriend als Jesus is.

In ballingskap het sy vir haar volk 'n simbool van verset geword, van hoop, van geloof, van oorwinning en van krag. Gereeld het sy hulle oor die radio toegespreek in die taal van 'n stryder wat weier om te gaan lê. Sy het haar volk, geknel onder die juk van die veroweraar, aangemoedig om die stryd ondergronds voort te sit, om nie met die oorwinnaar saam te werk nie, om te hoop op God.

In die najaar van 1944 het die gety begin draai. Die dag van verlossing was in sig en vroeg in die lente van 1945 kon sy weer na haar vaderland terugkeer. By Eede aan die Nederlandse grens aangekom, het sy haar bestuurder versoek om stil te hou. Te voet het sy die grens oorgesteek, terwyl geharde Nederlandse soldate openlik gehuil het. "God, my troue Heer, het my terugge-bring," het sy te midde van aandoenlike tonele oor en oor herhaal.

Hierna het die groot taak van die heropbou van haar land gewag. Sy was reeds ná aan die sewentig jaar oud en nadat sy haar volk oor die ergste gehelp het, het sy besluit om afstand te doen van die troon ter wille van haar dogter, Juliana. Met haar tipiese nugterheid het sy beplan om te abdikeer enkele weke voordat die vyftig-jarige jubileum van haar regering sou aanbreek. Sy wou geen verering vir haarself hê nie, en nadat sy die volk op die beroemde Dam aan hulle nuwe koningin voorgestel het, het sy die magtige skare voorgegaan met: "Leve onze Koningin!" As prinses Wilhelmina sou sy haar laaste jare op haar landgoed Het Loo in sobere eenvoud deurbring. Hier het sy haar lewensverhaal geskryf.

"Ek is eensaam, maar ek is nie alleen nie," het sy gesê, "Christus is met my." Die slothoofstuk van haar boek is 'n aangrypende, byna ekstatiese verheerliking van Christus en van God se hoë plan. "Maar," het sy bygevoeg, "die Plan gaan voort, net soos my taak. Want my taak gaan mee in die nuwe lewe wat op my wag, wanneer Christus my na Hom toe roep."

Op 29 November 1962 het sy in haar Here ontslaap. Soos vir prins Hendrik baie jare gelede, het haar bedroefde volk vir haar 'n wit begrafnis gegee.

Toe die wit koets met agt wit perde vooraan haar stoflike oorskot grafwaarts gevoer het, was die boodskap aan almal duidelik: Wilhelmina leef! Sy leef vir ewig!

[Uit: 'n Vrou en haar God, I L de Villiers, NG Kerk-Uitgewers, 1976].

Indeks     Index