HONGER MENSE...
  "Toe dit al aand begin word, het Sy dissipels vir Hom kom sê: 'Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.' Maar Jesus sê vir hulle: 'Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.' Hulle sê toe vir Hom: 'Ons het hier net vyf brode en twee visse'" (Matteus 14:15-17).
Ek wonder of hierdie woorde van Jesus aan Sy dissipels nie ook op die Kerk van vandag van toepassing is nie. Die Kerk mag nooit, soos die dissipels wou doen, mense honger en onversadig wegstuur nie! Jesus se opdrag geld vandag steeds: "Gee julle vir hulle iets om te eet."
Ja, ek praat van fisieke honger, maar ook van geestelike honger. Mense wat na eredienste of ander geestelike byeenkomste gaan, doen dit dikwels omdat hulle 'n geestelike honger of behoefte het. Maar is ons die naam "Kerk" en "Christen" waardig as mense tevergeefs na ons kerke toe kom op soek na saligheid, liefde, versor-ging en die aanraking van die Here? Ons is immers Sy Liggaam wat veronderstel is om Sy werk op aarde voort te sit. Indien die honger skare daardie dag geen voedsel ontvang het nie, sou hulle elders moes gaan soek na kos. Sommige sou dalk langs die pad beswyk het. Is dit nie ook in geestelike sin van die Kerk van vandag waar nie? As ons nie mense se geestelike honger stil en die leegheid in hulle hart nie vul met die liefde van Christus nie, wat word dan van hulle?
Waar moet hulle dan gaan soek? Is dit nie waarom baie mense, en veral ons jeug, dikwels belangstelling in die Kerk verloor en op die ver-keerde plekke en in die verkeerde dinge - in dwelmmiddels en selfs in okkultiese praktyke - tevergeefs gaan soek na iets om die leegheid in hulle lewe te vul nie? En in die proses is daar soveel wat geestelik van die honger sterf en verlore gaan! Die Kerk van Christus kan met baie dinge besig wees, maar as ons nie die honger en behoefte van mense kan stil nie, mis ons ons doel en roeping!

[Die Jesus Bybel, Isak Burger, Carpe Diem Media, 2010].

Indeks     Index