DIT SAL KORTSTONDIG GENOEG WEES | |
  |
"Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie" (Romeine 8:18). "Ek wil nie hê julle moet oud word en doodgaan nie," sê ons studentedogter. Dis Sondag-middag; ons eet nagereg en ons gesels 'n hond uit 'n bos. Al is almal om die tafel belydende Christene, krimp almal se harte ineen by die gedagte aan afskeid en skeiding. Ons wil nie hê dat hierdie goeie tye moet verbygaan nie. Ons wil nie later, op 'n ander Sondagmiddag, teen leë stoele vaskyk nie. Niemand het ooit gesê dat doodgaan maklik, doodnormaal en lekker is nie. Doodgaan is só 'n ontsettende gebeurtenis dat Jesus voor Sy kruisiging en dood gepleit het dat die beker tog by Hom moes verbygaan. Nee, doodgaan is nie die nor-maalste gebeurtenis in ons lewe nie. Maar die lewe waaraan ons so krampagtig vashou, is ook nie altyd lekker, genadig, soet en lieflik nie. Die kind van God vind met skok uit dat Jesus inderdaad die waarheid gepraat het toe Hy gesê het: "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin" (Joh. 16:33). Op die oog af het die gelowige selfs méér moeilikhede as die wêreldling. Benewens die gewone swaarkry van menswees, verduur gelowiges ook bespot-ting, vervolging en diskriminasie; van gelowiges word selfversaking en 'n lewe van toewyding en afsondering van die praktyke van die wêreld verwag. Die gelowige is 'n vreemdeling en bywoner in die wêreld. Wanneer ons oë oor ons dierbare gesinslede gaan, vergeet ons van die lyding en die verdrukking wat op die dag van ons dood beëindig word. Ons vergeet van stryd en vernedering. Eers wanneer ons besef dat ons nie kans sien om tot in alle ewigheid met die geweldige krag van ons ou natuur, met die aanslae van die Satan self, met die hunkering na bevryding saam te leef nie, verstaan ons die genade van 'n kortstondige aardse lewe wat vir die kind van God uitloop op die onbeskryflike heerlikheid wat daar in die Teenwoordigheid van God op ons wag. Gebed: Here, so dikwels krimp ek ineen by die gedagte aan dood-gaan, afskeid, en aan die verlies van die góéie dinge van hierdie aardse bestaan wat nou vir my so heerlik is. Gee asseblief aan my die visie om die heerlikheid van die groot ontmoeting met U te kan insien. Help my om te verstaan dat doodgaan 'n geboorte is en dat die heerlikheid wat U in U Woord aan ons beloof, anderkant die dood op U kinders wag. - Beloftes van Reën en Dou, Maretha Maartens, Aktuapers, 1996. |