JY PLA NIE...
  "Want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie,' En die ander antwoord van binne af: 'Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit [brood] vir jou te gee nie..." (Luk. 11:6-7).

Jesus gebruik 'n uiterste voorbeeld om ons te verseker dat God meer vir ons voel as ons beste vriend. Hierdie man wat om middernag opgeklop word vir so 'n ongewone versoek het immers rede gehad om omgekrap te wees! 'n Mens moet veral die praktiese implikasies van so 'n middernagtelike versoek verstaan.
Die mense van daardie tyd en kultuur het hoofsaaklik in een-vertrekhuise gewoon amper soos in die tradisionele Afrika-konteks. Hulle het op dun matrassies, opgestop met gras of hooi, geslaap. In die oggend is dit opgerol en eenkant gebêre sodat hulle die vertrek in die dag as 'n leefvertrek kon gebruik. In die aand is elkeen se matrassie weer opgerol. Die mense het gewoonlik ook vroeg gaan slaap, want daar was mos nie elektrisiteit nie. Wanneer elkeen dan sy of haar lê in die vertrek gekry het, is die deur se grendel toegeskuif en die lampie doodgeblaas. Dit was dus 'n yslike gedoente om die deur daarna vir iemand oop te maak en brood in die hande te kry - veral om middernag wanneer al die kinders, groot en klein, reeds geslaap het! Geen wonder dié man het gesê: "Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed" (Luk 11:7).
Jesus wil egter vir ons die versekering gee dat ons God hoegenaamd nie pla wanneer ons bid nie, en dat Hy meer vir ons omgee as die lojaalste vriend! Wat 'n Vriend het ons in U, Jesus! Amen.
[Die Jesus Bybel, Isak Burger, Carpe Diem Media, 2010].

Indeks     Index