JESUS MAAK STORMS STIL
  "en Hy sal genoem word: ... Vredevors" (Jesaja 4:39 OV).
Here, U Woord sê ek moet my nie kwel nie, maar biddend my begeertes aan U bekend maak. Ek bid dat U vrede wat alle verstand te bowe gaan my hart en sinne sal bewaar wanneer onrus my bedreig. Baie dankie, Vredevors, dat U oor my emosies waghou wanneer storms en teëspoed oor my gesin losbreek.
Ek kan maar net uitroep: Ek weet nie wat ek moet doen nie, maar my oë is op U, o Here! Jesus, ek wil een van die verstandiges wees wie se huis op die rots gebou is, want dwase sowel as wyse mense se huise word deur storms getref. Ek bid dat my gesin stewig op die Rots geanker sal wees; dat ons huis nie sal val nie...
Al is ek bang en wankel my geloof soms, weet ek dat my voete op U, die onwankelbare Rots, staan. Skryf solank vir my 'n nuwe lied, 'n loflied wat ek tot U eer kan sing, sodat ander kan hoor en moed skep. U is die Rots van my hart en my toevlug! Ek roep U aan in my benoudheid en ek weet dat U my uit my angste sal uitlei. Maak ook hierdie storm 'n gesuis en laat die golwe stilword. Amen.
'n Trooswoord: "Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte" (Ps. 107:30 OV).
- Dankie, Ma, Omdat jy Spesiaal is, H. du Plessis, Aktuapers, 2003.

Indeks     Index