VOORLANGSMENSE | |
  |
Ek het eenmaal gehoor van 'n jong huisvroutjie wat baie min tyd gehad het om die huis aan die kant te maak. Sy besluit toe om alles sommer so voorlangs skoon te maak. Al die goed wat rondlê, word sommer in kaste geprop. Kinders se speelgoed word woerts-warts êrens ingegooi, en daar word gestofsuig dat dit 'n naarheid is, behalwe onder die beddens en agter die kaste. En siedaar! Die huis is aan die kant! Is dit nie wat ook soms op geestelike gebied gebeur nie? Ons het 'n behoefte om ons geestelike lewens in orde te bring en pas 'n kitsresep toe soos 'n vinnige maerword-dieet. Dan verwag ons die wonderlikste resultate! Maar God wat onder die bed en agter die kaste kan sien, is nie tevrede met ons flou pogings om ons geestelike lewens aan die kant te kry nie. Jesus het met Johannes oor die Eindtyd-Kerk gepraat toe Hy gesê het: "Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My." (Openbaring 3:18-20). Ons moet drie dinge van Hom koop: goud, wit klere en salf vir die oë sodat ons geestelik vooruit kan gaan. Ons moet dit "koop". En koop beteken ons moet dit teen 'n prys bekom. Dit kos ver-ootmoediging en selfontlediging in gebed sodat Hy ons met Homself kan vul. Kom ons kyk so 'n bietjie na GOUD. In Job staan geskryf: "As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent. En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir. Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou. Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef. Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal" (Job 22:23-27). Dit kom daarop neer dat ons letterlik moet afstand doen van materialisme. Nie al ons besittings en geld weggee nie, maar van die liefde daarvoor en die liefde vir die gemak wat dit meebring, afstand doen. Ons moet God méér liefhê as ons besittings. Dan sal Hư ons Goud-erts wees. Gouderts moet gedelf word. Ons sal diep moet delf in ons verhouding met God om die rykdom van geestelike skatte te bekom. Dit word nie sommer so voorlangs en op die grond rond-gestrooi nie. Hierdie rykdom moet "gekoop" word! Petrus verklaar: "…sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus" (1 Petrus 1:7). Nou die WIT KLERE. Ons moet in gebed voor Hom kom met die wete dat nét Hy ons kan reinig deur die bloed van Jesus. Alles wat skeiding maak tussen ons en Hom sal uit die weg geruim moet word. Soos die huisvrou soms die pot met skuurdraad moet skuur, sal ons vir God moet vra om ons te verlos van dinge wat so vas-gegroei het in ons karakter dat dit as't ware deel van ons persoon-likheid geword het. En tog, as dit verkeerd is, moet ons daarvan verlos word. Hy moet 'n diep reinigingswerk in ons doen. Ons moet wit klere by Hom kom "koop"! En dan die SALF om ons oë mee te salf dat ons kan sien! Net God kan daardie salf gee. In ons eie oë lyk ons lewe skoon en reg totdat God ons aan onsself openbaar om onsself te sien soos Hư ons sien. Die "salf" van ons eiegereg-tigheid sal net ons oë toesmeer, sodat ons nie kan sien nie. 'n Ander se opinie sal ook nie help nie, want as een blinde 'n ander blinde lei, sal albei in die sloot val. Ons moet by God uitkom om die geestelike salf te "koop" sodat ons werklik sal kan sien, omdat ons dan deur Sy Gees gelei sal word. Laat ons dan nie voorlangs-mense wees nie, maar by God die goud, die wit klere en die salf kom "koop" sodat ons "skoonmaak" deur Hom goedgekeur kan word. Dán sal ons lewe Hom behaag. © Dr. JJ Venter |