GOD IS NOOIT AFWESIG NIE
 
Somtyds voel dit vir 'n mens of alles skeefloop. Daar is 'n knellende droogte, die ekonomie stort in duie, misdaad en geweld neem toe.

Boonop tref die een ramp na die ander jou in jou persoonlike lewe: 'n ongeluk, siekte, die dood van 'n geliefde of vriend. Dis dan dat 'n mens wil vra: is dit alles nog die moeite werd? Neem God nog van ons kennis? Waarom is Hy dan so onregverdig dat goddeloses skotvry kom, terwyl gelowiges onder die aanslae van die lewe moet steier?

Dit is hierdie vrae waarmee die mense in Maleagi se tyd geworstel het. As gevolg van die ongunstige verloop van die politiek, vanweë droogte en plae en verdrukking, het die gelowiges begin twyfel aan God. Hulle het God begin minag en begin glo dat hulle en hul optrede Hom nie raak nie.

Daarom het daar godsdienstige en morele verval ingetree. God moes maar tevrede wees met afskeep-offers. Die huwelik is nie in ere gehou nie en deur die priesters se versuim is die wet van God geïgnoreer.

Die ergste van alles is dat mense teen God opstandig geraak het. Hulle het geglo dat God verander het en dat dit vergeefse moeite is om opreg te lewe en Hom te dien. Daarom het hulle hul medemense mishandel.

God reageer hierop deur Sy volk te waarsku teen die koers wat hulle inslaan. Hy is steeds die liefdevolle God. Trouens, dit is juis omdat Hy nie verander het nie dat Hy hulle nog nie uitgewis het nie.

Vir Hom is daar nog steeds 'n onderskeid tussen diegene wat Hom dien en diegene wat Hom minag. Hy is die Groot Koning vir Wie alle nasies ontsag het; daarom moet Sy volk Hom ook eer. Hulle moet nie egbreuk pleeg en aan mekaar ontrou wees nie. Hulle moet Hom eer met hulle gawes sodat Hy weer aan hulle materiële seëninge kan gee.

Hy kom as Regter na hulle toe. Sy oordeelsdag sal algehele verwerping beteken vir die goddeloses, maar redding en genesing en blydskap soos dié van bokspringende kalwers vir diegene wat eerbied het vir Sy Naam.

Maleagi het dus ook vir ons 'n baie dringende boodskap. In 'n tyd waarin baie mense glo en selfs openlik beweer dat God dood is, dat Hy Hom nie steur aan wat op die aarde gebeur nie, bring hierdie boek perspektief. Maleagi wys ons op God se troue liefde, die bewys dat Hy omgee. Vir Christene lê die bewys van God se liefde in dit wat op Golgota gebeur het, toe God Sy Seun ter wille van ons prysgegee het.

Dit is nogal waar dat goddelose mense dikwels meer voorspoed geniet as toegewyde gelowiges. Maar dan kom 'n dag waarop die bordjies verhang sal word, waarop die gelowiges oorvloedige vreugde sal geniet.

Na alles dien 'n mens God tog nie net om daardeur vir jouself voorspoed te koop nie. 'n Mens dien God omdat Hy jou eerste liefgehad het.

Daarom kan ons ook onder teëspoed volhard met die regte optrede en ware toewyding aan God. Hy is die Son van Redding wat ook op ons skyn!

[Uit: Die Bybel in Praktyk onder redaksie van Wil Vosloo en Fika J van Rensburg, CUM, 1993].

Indeks     Index