SÊ VERSUS DOEN | |
![]() |
|
  |
Vertrou jy maklik iemand wat een ding sê maar 'n ander ding doen? Soos byvoorbeeld iemand wat Volkswagens verkoop maar self 'n Toyota ry? Of iemand wat 'n "bumper sticker" het wat 'n Christen-radiostasie adverteer, maar die klanke wat uit sy kar kom, is van 'n heel ander radiostasie? Watter boodskap stuur sulke persone uit? Waarop vertrou jy? Op dit wat hulle doen of dit wat hulle sê? Die antwoord is eintlik eenvoudig. Die bestuurder van 'n passasiersbus stop by 'n plek waar daar vier eetplekke is. Hy maak toe 'n aankondiging: "Volgens beleid kan ek nie vir julle 'n eetplek aanbeveel nie." Hy het egter uitgeklim en na 'n restourant oorkant die straat gestap. Hy is gevolg deur 'n lang ry honger passasiers. Ons dade stuur baie harde boodskappe uit. Dis ook waar van ons getuienis oor Jesus Christus. As ons wil hê dat 'n mens moet glo wat ons oor Hom sê, moet ons dit vir hulle wys! Tabita, wat ook Dorkas genoem is, is 'n goeie voorbeeld in die Nuwe Testament. Sy het 'n Joodse en 'n Griekse naam gehad - heel waarskynlik omdat sy bemind was en oor taal- en kultuurgrense goed gedoen het. Die Bybel vertel iets van hoe haar lewe gelyk het: "Altyd besig om goed te doen." As sy oor Jesus gepraat het, het mense geluister. Haar dade het aan mense die rede verskaf waarom hulle haar kon glo. Sy was die lewende bewys van wat sy geglo het. Dis mos makliker om oor Christenskap te práát as om dit te lééf. Maar as jy dit leef, raak dit soveel makliker om te praat, juis omdat die mense jou vertrou! [God maak my dag, Jacie van Rensburg, Lux Verbi.BM, 2002]. |