EINA! MY ORE... | |
  |
Ek weet nie waar dit gaan eindig nie. Die tale wat mense darem deesdae praat, sou seker vir Ouma en Oupa in hulle graf laat omdraai. 'n Paar jaar gelede sou ons monde definitief met seep uitgewas gewees het. Die norme in die samelewing het nogal ernstig geskuif. Vroeër sou 'n mens bloot net uit respek vir 'n vrou nie in haar teenwoordigheid gevloek het nie, maar deesdae vloek die vrouens net so lekker saam! Ook nie die teenwoordigheid van kinders keer dat mense vloek nie. Iemand sê dat ons in die Vuilbek-eeu leef! As jy kyk na die syfertjies en lettertjies waarmee hulle die films keur, dan is daar feitlik by almal 'n L. L vir taal! Of dit nou 13, 16 of 18 is, die L staan daar. Die gewildste sê-ding op TV is definitief: "O, my God!" Dit maak nie saak of jy skrik nie, of verbaas is nie, of bly, of kwaad of wat ook al nie... lyk my dit pas by alles! Darem nie by alles nie. Dit pas mos nie by 'n Christen nie. Dit pas nie om die Here, wat Sy lewe vir ons gegee het, se Naam ydellik te gebruik nie! Ek dink ook nie Jesus Christus neem daarmee genoeë dat Sy Naam as 'n stop-woord gebruik word nie. En tog hoor 'n mens dit elke dag. Lees weer Eksodus 20:7. Maar dit lyk nie vir my of ons meer skrik vir wat daar staan nie. Ons wat sê ons is Christene, moet weer opstaan wanneer mense die Here se Naam misbruik. Dalk deur net te sê: "Weet jy, daardie Naam wat jy so gebruik, beteken nogal baie vir my. Daardie God is my Verlosser!" [Uit: God maak my dag, Jacie van Rensburg, Lux Verbi.BM, 2002]. |