"JESUS HET GEWEEN"
 

Hierdie woorde staan opgeteken in Johannes 11:35. Dit is die kortste vers in die Bybel, maar terselfdertyd ook een van die kragtigste.

Dit was die tyd toe Lasarus gesterf het. Lasarus en sy twee susters was Jesus se persoonlike vriende. Hy sou dikwels met Sy twaalf dissipels by hulle tuisgaan. Hy sou daar eet, slaap en bloot net maar kuier soos 'n mens by goeie vriende doen.

Met Lasarus se afsterwe het Jesus aan Sy dissipels gesê: "Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak" (Joh. 11:11). Toe antwoord hulle: "Here, as hy slaap, sal hy gesond word" (Joh. 11:12). Dit is tóé dat Jesus ronduit sê: "Lasarus is dood" (Joh. 11:14). Nadat Jesus te hore gekom het waar hulle hom neergelê het, sê die Woord: "Jesus het geween."

In hierdie kort sinnetjie vind ons die volkome mensheid van Jesus. Hy was mens soos u en ek. Daarin lê egter ook opgesluit die egtheid van Sy hartseer en medelye. Hy kon saamvoel en troos in tye van groot verlies en smart, want HY het begrip daarvoor gehad.

Dit is wat Hy steeds doen. In ons grootste ellende en smart is Hy daar vir elkeen wat na Hom toe wil keer. Die Liederedigter kon sê (heel moontlik uit ondervinding): "Tears are a language God understands." 'n Ander een kon byvoeg: "He washed my eyes with tears that I might see, the broken heart I have was good for me."

Dikwels lees ons in die Bybel van mense se trane wat hulle gestort het in tye van nood, droefheid en smart. Met Jesus se geboorte het koning Herodes beveel dat al die seuntjies van twee jaar en jonger doodgemaak moes word. Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: "'n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie" (Matt. 2:17-18).

Hierdie profesie staan opgeteken in Jeremia 31:15. Wat 'n groot droefheid en smart het al dié moeders in Israel getref! Maar die trooswoorde van die HERE staan opgeteken in Jeremia 31:16: "So sê die HERE: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die HERE; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom." Natuurlik was dit ook 'n dubbele profesie vir Israel: "... hulle sal uit die land van die vyand terugkom." Dit het tot vervulling gekom ná die ballingskap waaroor Jeremia geprofeteer het.

Jare gelede was daar 'n pastoor (A B du Plessis), wat ernstig in 'n motorongeluk beseer is waarin sy vrou gesterf het. Terwyl hy in pyn en droefheid oor sy vrou verkeer het en dit vir hom baie ondraaglik geword het, het die Here hom met híérdie woorde van Jeremia getroos: "So sê die HERE: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die HERE..." En die Here het hom na hierdie tragedie magtiglik gebruik!

So was daar talle Bybelkarakters wat by God vertroosting gevind het en daarna in groter toewyding aan die Here geleef het. Toe Naomi uit 'n vreemde land terugkeer nadat sy haar man en twee seuns verloor het, het sy by haar twee skoondogters aangedring om om te draai na hulle vaderland. Daar was 'n groot geween.

Dan kom die aangrypende antwoord van Rut: "Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen - net die dood sal skeiding maak tussen my en u" (Rut. 1:16-1:17). En uiteindelik is die Here Jesus gebore uit die nageslag van die Moabitiese vrou, Rut!

In jou diepste smart is God daar om ook vir jóú te troos. Hy verstaan jou trane. Hetsy of dit trane van berou is, of dit trane van groot droefheid is, en of dit trane van oorgawe en toewyding aan God is. Hy wíl jou help en ondersteun!

Job sê in sy ellende: "My gesig het rooi geword van geween, en oor my ooglede is daar 'n doodskaduwee..." (Job 16:16). En wat was God se uiteinde met hom? Hy het 'n dubbele seën van God ontvang!

Jesus het vir Sy dissipels en die skare gesê: "Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag" (Luk. 6:21). En in Openbaring 21:4 staan geskrywe: "En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan."

Kom, laat ons na Jesus keer, want Hy verstaan elke hart se droefheid en kan volmaak troos bied vir elkeen wat troos nodig het. Onthou, Hy het Self ook geween!

© Dr. J J Venter

Indeks     Index