KRITIEK | |
  |
Dit lyk vir my of daar in die laaste tyd 'n nuwe sportsoort ontwikkel het. Ek weet nie of dit baie ontspannend is nie, maar wat ek wel weet, is dat feitlik almal daaraan deelneem. Ek praat van kritiek. Dit het een van die belangrikste tydverdrywe van die moderne era geword. Dit lyk of mense wedywer om te sien wie die meeste kritiek teen ander mense kan lewer. Daar is net mooi niemand wat ontsien word nie. Van die president af tot by die werklose - almal loop deur. Die predikant preek nie wat die mense wil hoor nie. Die stadsraadslid is slap en doen nie sy ding nie. Die skole is pateties. En so kan ons aangaan. Ons raas oor mense, raas oor programme, raas oor enigiets. Dié alewige kritiek kom erg onder Christene voor. Maar ook nie van vandag af nie. Paulus moet vir die gemeente in Rome ook op die-selfde probleem wys (Romeine 14:13-23). Dit was iewers naby die jaar 60 n.C. Paulus sê in vers 13 dat ons moet ophou om mekaar te veroordeel. Ophou om kritiek te lewer. Ons Christene is nogal goed om sekere sake van ons weg te hou omdat dit ons verhouding met die Here gaan skade aan-doen. Maar dan verontagsaam ons 'n baie duidelike uitspraak in die Woord van die Here soos: "Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie." Sal dit nie wonderlik wees as ons dit kan regkry om kritiek uit die Kerk te ban nie? Dis moontlik, maar dan moet jy vandag iets daaraan doen deur nie self oor alles te kla nie. Dis nou 'n lekker uitdaging vir hierdie dag, en week, en maand, en jaar, en lewe. Dit is makliker om te kla as om te help. [Uit: God maak my dag, Jacie van Rensburg, Lux Verbi.BM, 2002]. |