WATER IN DIE SKIP...



 
Dit is nie die skip in die water wat dit laat sink nie, maar die water in die skip. Net so is dit ook nie die Christen in die wêreld nie, maar die wêreld in die Christen wat lewensgevaarlik is (J Wilbur Chapman).

"En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is" (Romeine 12:1-2 NV).

Hoe lyk jou lewensboot? Is die watervlak van die wêreld besig om daarin te styg? 'n Mens word nie dadelik van lekplekke in 'n skip bewus nie. Miskien gebeur dit in moderne skepe, maar nie so maklik in die mens se lewenskip nie. Die wêreld het 'n suigkrag wat ons nie maklik raaksien nie.

Die Here vra nie van ons 'n kloosterbestaan nie, maar ons moet daagliks saam met God wandel en in Hom rus, sodat Hy die veranderings in ons lewe kan aanbring. Dan sal ons kan onder-skei wat wêrelds is en wat vir Hom aanvaarbaar is.

Gebed: Gees van God, verdryf U die wêreld se gesindhede en optrede uit my lewe, sodat ek U wil sal doen. In die Naam van Jesus Christus. Amen.

- Pitkos vir die Pad, Annes Nel, CUM, 2004.


Indeks     Index