MAN WREEDAARDIG AANGERAND! | |
![]() |
|
  |
'n Sakeman op reis tussen Jerusalem en Jerigo, is deur rowers oorval en wreed aangerand! Nadat hulle hom beroof en op vlug geslaan het, is hy vir dood agtergelaat. Vanweë rowers wat skuilhou tussen rotse en klowe, word dié pad as baie gevaarlik beskryf. Reisigers word gewaarsku om nié alleen en sonder beskerming hier te reis nie. Onherbergsaam is dit voorwaar - 'n pad wat vir 30 km afloop in die rigting van die Dooie See (400 meter onder seespieël), terwyl Jerusalem 700 meter bo seespieël is: dus 'n val van 1 100 meter vir dié 30 km. Dié man se ervaring klink soos 'n verhaal wat nét met iemand anders kan gebeur. "Ek het daar langs die pad gelê tussen niks en nêrens en gedink ek gaan sterf. Daar was geen hulp in sig nie. Skielik hoor ek voetstappe. Toe ek my kop effens oplig, sien ek 'n priester aankom. 'Voorwaar,' het ek gedink, 'hier kom 'n man van God aan!' Maar hy het aan die anderkant van die pad verbygegaan - op pad huis toe. Seker nadat hy sy diens by die tempel voltooi het. Hy het méér belanggestel om by die huis te gaan rus as om iemand in nood te help! "Ek het nog so gelê toe ek wéér voetstappe hoor. Nogeens het ek my kop opgelig. Nog 'n man van God - 'n Leviet. Dalk sal hý hom oor my ontferm. Toe doen hy dieselfde. Gaan ook aan die anderkant van die pad verby op pad tempel toe. Seker om diens te gaan doen. Hy het sy diens en heiliging vir tempeldiens bó naastediens gestel. "Skielik het ek alle hoop verloor dat iemand hom oor my sou ontferm. Teen hoop op hoop hoor ek vir die derde maal voetstappe. Hierdie keer het ek nie eers my kop opgelig nie, want as 'n priester en Leviet my nie wou help nie, wie sou? Skielik is ek bewus daarvan dat 'n man by my kom kniel het. Ek sien hoe hy oor my buk... die sagtheid van sy oë tref my. Die ontferming daarin. Dadelik het ek gewéét: Hier is iemand met medelye - 'n man van God! Maar hy was 'n Samaritaan. Tog het hý my gehelp! My wonde ontsmet. Olie daarop gegooi. My op sy eie pakdier na 'n herberg in Jerigo geneem, twee pennings betaal en belowe om die res te betaal wanneer hy terugkom! Wat 'n wonderlike ontfermer!" Na aanleiding van hierdie verhaal (Luk. 10:25-37), het Jesus gesê: "Gaan en doen jy net so." Laat ons 'n toepassing vind: Die priester kan 'n "predikant" wees wat hom nie regtig oor 'n hulpbehoewende persoon ontferm nie. Hy het nie opregte medelye nie. Die Leviet kan dui op die "gewone Christen" wat ook nie medelye betoon nie. Jesus is ons Groot Samaritaan. Vol medelye. Olie kan 'n tipe wees van die Heilige Gees. Die twee pennings is die Deposito of Waarborg: Ef. 1:12-14 "...sodat ons kan wees tot lof van Sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, in Wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die Evangelie van julle redding, gehoor het, in Wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand (Grieks = arrabon: die waarborg of deposito) is van ons erfdeel om Sy eiendom te verlos tot lof van Sy heerlikheid." Jesus het die Deposito, die Heilige Gees wat in elke gelowige inwoon, geskenk. Eendag sal Hy weer kom en ons finaal verlos om vir ewig by Hom te kan woon. Maar terwyl ons nog op aarde is, word ons opgeroep om nie onsimpatiek te staan teenoor diegene in nood nie. Ons moet namens Hom ons ontferm oor mense wat in fisiese nood, maar verál ook in geestelike nood en innerlike pyn verkeer. Ons moet hulle help om by die Here uit te kom. Dit is ons roeping. Jesaja skryf soos volg oor sy roeping: "In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en verhewe troon, terwyl Sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van Sy heerlikheid vol! En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword. Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien! Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool in sy hand, wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het, en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen. Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my" (Jes. 6:1-8). As jy die Here se roepstem hoor, antwoord soos Jesaja: "Hier is ek, stuur my". Gaan en wees 'n barmhartige Samaritaan! © Dr. J J Venter |