GOD SE LIEFDESBRIEF: 'N BOODSKAP VAN HOOP | |
![]() |
|
  |
Géén tye in ons lewe is só hopeloos dat God se Woord nie lig op die situasie sal werp en ons sal vertroos nie. Ek ken talle ouers wat die Woord van God gebruik om hulle gevoel van hopeloos-heid omtrent hulle tieners se optrede teen te werk. Hulle gaan na die kind se kamer en lees eenvoudig die Skrif hardop. Nie net het hoop in hul eie hart opgevlam nie, maar hulle het ook kort daarna veranderings in hulle kinders bemerk - selfs wanneer die kind nie daar was om dit aan te hoor nie. As jy met hopeloosheid, verlies, siekte of versoekings worstel, moet jy sorg dat God se Woord voortdurend teenwoordig in jou lewe is. Koppel jou daaraan soos aan binneaarse voeding en laat dit onafgebroke deur jou geestelike are vloei. Die lig daarvan sal hopeloosheid uit jou lewe brand. "Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees" (Romeine 15:4). Moet dit nie eens oorweeg om 'n lewe te probeer bou sonder om God se Woord as kraggereedskap te gebruik nie; trouens, maak juis dít jou fondament. Wanneer jy ook al voel jy is in die donker of op onvaste bodem, vra God om die lig van Sy Woord in jou hart te gee. Sê: "Stuur U lig en U waarheid dat dié my lei en my bring na U heilige berg" (Psalm 43:3). As jy wil verstaan hoe die lewe werk, lees net Sy Handboek. As jy moet weet waarheen jy veronderstel is om te gaan, sal Sy waarheid jou in die regte rigting stuur, jou pad verlig en voorkom dat jy die pad byster raak. Wees honger vir God se Woord soos vir kos. Ontwikkel 'n dors daarna soos na water. Baai daarin soos in 'n borrelbad. Trek dit aan soos 'n kledingstuk. Verweef dit met jou siel sodat dit deel word van die weefstof van jou lewe. As jy dit doen, sal jy nie bloot op die pad voortsukkel nie; jy sal in die voetligte dans! NET God se Woord in ons gemoed, in ons hart, en op ons lippe, sal die duisternis van leuens verdryf en ons bewapen met 'n tweesnydende swaard wat kragtiger is as enige wapen wat die opposisie teen ons kan gebruik! [NET GENOEG LIG VIR MY VOLGENDE TREE, Stormie Omartian, Struik Christelike Boeke, 1999] |
![]() |