ONS LEWENSWEDLOOP | |
![]() |
|
  |
Die begin van enige wedloop is belangrik, maar die einde nog belangriker. Die voorste hardloper kan moeg word en uiteindelik tou opgooi. Dit gebeur soms selfs dat 'n atleet wat die pas vir 'n hele ent aangee, later uitsak en glad nie eers die wedloop voltooi nie. Dit mag ook gebeur dat hy nie net van uitputting tou opgooi nie, maar as gevolg van die een of ander besering. 1 Samuel is 'n boek waarin ons lees hoe mense op indrukwekkende maniere begin, maar tragies eindig. Die verhaal begin by Eli, die hoofpriester in die tyd van die rigters. Hy het beslis met 'n toegewyde lewe begin en toon ook in sy gesprek met Hanna en die wyse waarop hy die jong Samuel gelei het, dat hy begrip het vir die Here se wil en werking (1 Samuel 1, 3). Sy lewe eindig egter in 'n tragedie, want sy goddelose seuns het gesneuwel, die verbondsark het in die hand van die vyand geval (1 Samuel 4), en hyself het gesterwe. Met Eli se dood het die invloed van die priesters ook begin afneem en het die profete 'n al hoe belangriker rol in Israel begin speel. Hanna het Samuel nog voor sy geboorte aan die Here gewy. Hy was tegelyk laaste rigter, profeet en Leviet (1 Kron. 6:25-28) wat priesterlike werk verrig het. Hy het die werk van die rigters afgehandel, die eerste twee konings van Israel gesalf, en een van die grootste profete van Israel geword. Maar selfs Samuel was nie gevrywaar teen probleme nie. Net soos Eli se familie, het sy seuns ook die rug op God gekeer, omkoopgeskenke aangeneem en die reg verdraai. Die mense het die leierskap van die rigters en priesters verwerp en gehunker na 'n koning, "soos dit by al die nasies is" (1 Samuel 8:5). Die Here het Saul as die eerste koning van Israel aangewys (1 Samuel 10:24). Aanvanklik was hy 'n sterk leier en 'n dapper soldaat. Hy het egter op die terrein van die profete oortree, het swak oordeelsvermoë en menseverhoudings geopenbaar, en het God se bevele en Israel se ou godsdienstige tradisies geïgnoreer sodat die Here die koningskap van hom weggeneem het (1 Samuel 16). Saul se lewe het al hoe meer agteruitgegaan. Hy wou Dawid met alle geweld doodmaak, het 'n dodebesweerster geraadpleeg en het uiteindelik selfmoord gepleeg (1 Samuel 31). 1 Samuel skilder vir ons die oorgang van 'n teokratiese regeringstelsel na 'n monargie, asook die opkoms en invloed van die profete. Maar die bekende verhale oor die ark, Samuel en Saul, Dawid en Goliat, Dawid en Saul, Dawid en Jonatan, en Dawid en Abigail is nie maar net stories wat slapenstyd vir kinders voorgelees moet word nie. Elkeen van hulle is verkondiging: oor God, oor die verhouding tussen God en mens, en oor tussen-menslike verhoudings. Dis 'n spieël waarin elke leser iets van die Bybelkarakters in homself moet herken en self moet besluit: "Hoe is ék besig om die wedloop van die lewe te hardloop? Voluit tot aan die einde, al is dit soms weifelend en struikelend, OF eiesinnig en opstandig?" [DIE BYBEL IN PRAKTYK, red. Wil Vosloo, Fika J van Rensburg, CUM, 1993]. |