WAAR SAL MY HULP VANDAAN KOM? | |
![]() |
|
  |
"Staan op, skreeu in die nag by die begin van die nagwake, stort jou hart uit soos water voor die aangesig van die Here, hef jou hande op na Hom, ter wille van die lewe van jou kinders..." (Klaagliedere 2:19 OV). My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. U barmhartighede het geen einde nie, Here. Elke môre is dit nuut! U trou is so groot. U is goed vir die wat op U hoop en U soek. Ek sal net stil op U hulp bly hoop... Al is ek onder druk, is ek nie terneergedruk nie. Al is ek verleë, is ek nog nie radeloos nie. Ek veg dalk 'n alleenstryd, maar U sal my nie in die steek laat nie. Ek mag dalk voel ek wil ineenstort, maar U sal my van vernietiging bewaar. U Woord sê dat hierdie ligte verdrukking van korte duur is, maar dit bewerk vir my 'n alles-oortreffende, ewige gewig van heerlikheid omdat ek nie op sigbare dinge let nie, maar op die onsigbare. Ten spyte van alles waardeur ek nou gaan, vernuwe U my innerlike mens elke dag. As U vir my is, wie kan teen my wees? U het vir my alles geskenk wat ek nodig het om deur hierdie beproewing te kom. Ek is meer as 'n oorwinnaar omdat U liefde my dra en ek is verseker dat niks my ooit van U liefde sal kan skei nie! Lees ook: Ps.121:1; Klaagl. 3:22-25; 2 Kor. 4:8-11; Rom. 8:31. [Uit: Dankie Ma omdat jy spesiaal is, Helen du Plessis, Aktuapers, Pretoria, 2003]. |