5 VOOR MIDDERNAG?

SEWE GEMEENTES - SEWE KERKPERIODES
 
In 'n poging om die verloop van die ganse Kerkgeskiedenis baie kortliks te ondersoek en te probeer verstaan wat in en met die Kerk van Jesus Christus gebeur het en wat nog in die toekoms sal gebeur, is dit noodsaaklik dat ons ons o.a. wend na die boek Openbaring in die Bybel.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT, 2009) verklaar die woord "openbaring" soos volg: "Handeling van te openbaar; ook, wat geopenbaar is." Verder word in die HAT vermeld dat die laaste boek van die Nuwe Testament, Die Openbaring van Johannes, die Apokalips of openbaringsleer is.

Die woorde apokalips en apokalipties word afgelei van die Griekse woord apokalupsis wat die oopmaak, openbaar maak of onthulling van iets wat geslote of onbekend was, beteken. Ons kan dus hieruit aflei dat die boek Openbaring nie 'n "toe" of "geslote" boek is nie. Die onderstaande Skrifgedeelte stel dit só: "Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan Sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van Sy engel aan Sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus - alles wat hy gesien het" (Openbaring 1:1-2 OV).

Daar bestaan redelike eenstemmigheid onder Bybelkommentators dat die apostel Johannes, die geliefde dissipel van die Here Jesus Christus, die skrywer van die boek Openbaring is. Hy het in Efese gewoon, maar is na die eiland Patmos in die Egeïese see verban. Hier het hy die openbaringsvisioene omstreeks 95 n.C. ontvang.

Dit is baie belangrik om daarop te let dat wat Johannes neergeskryf het, nie 'n geheimenis of 'n verborgenheid is nie, maar dat dit die "openbaring van Jesus Christus" is "wat God Hom gegee het." Dit is dus nie 'n openbaring van Johannes self nie.

Hoewel daar in werklikheid op daardie tydstip meer as 'n honderd gemeentes in Klein-Asië bestaan het, moes Johannes hierdie openbaring wat hy van Jesus ontvang het, deur middel van "briewe" aan sewe spesifieke gemeentes bekend maak. Hierdie sewe gemeentes kan ook gesien word as verteenwoordigend of tipes van ander bestaande, asook toekomstige gemeentes van die Kerk in sy volle totaliteit. Verder dui hierdie gemeentes ook op sewe tydperke in die Kerkgeskiedenis.

Aangesien hierdie Goddelike boodskap ook toekomsgerig is en die ganse menslike geskiedenis oorspan, was dit nie slegs beperk tot daardie sewe gemeentes nie, maar is dit ook gerig aan die Kerk van Jesus Christus vir alle tye totdat alles wat deur Hom geopenbaar is, tot volle vervulling sal kom. Die inhoud van hierdie boek moet dus nie geheim gehou word nie, maar wyd en syd verkondig word omdat die einde (veral nou) al baie naby is.

Jesus sê aan Johannes: "Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is sowel as die wat gaan gebeur" (Openbaring 1:19 OV). Hier is sprake van meer as een tydperk: dinge wat jy gesien het (het reeds plaasgevind: die verskyning van Jesus aan Johannes tussen sewe kandelaars of goue staanlampe), dinge wat is (die openbaring met betrekking tot die teenswoordige omstandighede van die sewe gemeentes in Openbaring 2:1 - 3:22), asook die dinge wat nog gaan gebeur (Openbaring 4 - 22). Johannes ontvang dus 'n Godsopenbaring van die verlede, die hede en die toekoms: beide die onmiddellike sowel as die verre toekoms.

Alle gemeentes, van alle tye, moet hulself dus meet aan dit wat Johannes vir die sewe gemeentes geskryf het. Dit is soos 'n spieël wat voor hulle gehou word en daarin kan hulle sien hoe hulle geestelik voor God lyk, in hoe 'n mate hulle Sy Woord uitleef, Sy bevele gehoorsaam, en méér as oorwinnaars is. Dit geld natuurlik ook vir élke mens persoonlik.

Met die lees van Johannes se beskrywings in die Bybelboek Openbaring, neem ons kennis van God se planne en wilsbesluite, oordele en verlossing met betrekking tot Sy Kerk, asook die ganse mensdom soos dit deur die geskiedenis ontvou.

Maar wie was hierdie betrokke sewe gemeentes aan wie Johannes moes skryf? Jesus sê vir hom: "Skrywe wat jy sien in 'n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea" (Openbaring 1:11 NV).


EFESE (Openbaring 2:1-7) [Die Teruggevalle Kerk]

Jesus verskyn aan hierdie gemeente as "Hy wat die sewe sterre in Sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars..." (Openbaring 2:1(b) OV). Jesus hou die "sewe sterre", "engele" oftewel leraars van die sewe gemeentes in Sy regterhand. Die "sewe goue kandelaars" of "lampe" is die sewe gemeentes. Jesus wou hul aandag daarop vestig dat Hy die mag en oppergesag oor die gemeentes het.

Agtergrond: Efese was 'n toonaangewende hawestad geleë aan die weskus van Klein-Asië. Dit was dáárom ook 'n baie belangrike handelstad en een van die invloedrykste stede in die oostelike deel van die Romeinse Ryk. 'n Romeinse skrywer het dit Lumen Asiae genoem, oftewel "Die Lig van Asië." Die Griekse skrywer en filosoof Strabo, wat net voor Christus geleef het, het dit die "Mark van Asië" genoem.

Later jare, toe die martelare van Asië na Rome gebring is om vir die leeus gegooi te word, het die Apostoliese Vader Ignatius dit "Die Hoofweg van die Martelare" genoem. Die tempel van Artemis in hierdie stad was een van die wonders van die antieke wêreld en die vervaardiging van afgodsbeeldjies was 'n baie belangrike bron van inkomste (Lees Handelinge 19:21-40). Die afgodsgodin, Diana, is hier aanbid.

Die kerk in Efese was bevoorreg om o.a. Paulus, Apollos, Timoteus en die apostel Johannes as leraars te kon hê. Hulle was dus goed in die Skrifte onderlê. Paulus waarsku hulle egter in Handelinge 20:28-31 (NV) reeds: "Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters 'n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van Sy eie Seun. Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane."

Dit is daarom baie interessant dat Efese o.a. beteken "om te ontspan" of "te laat gaan". Daar het dus 'n vervlakking van hul liefde, diens en toewyding aan die Here plaasgevind. Verdere uitbreiding van hierdie gemeente het ongelukkig ook daartoe meegewerk dat dit later meer in 'n aktiewe, suksesvolle organisasie ontaard het en dat hulle in hul "eerste liefde" vir Christus verflou het.

Tydperk: Vanuit historiese perspektief word veronderstel dat die sg. Efese-tydperk vanaf 33 n.C. tot ongeveer aan die einde van die eerste eeu n.C. strek.

Prysenswaardig: Die Here Jesus het hierdie gemeente geprys vir hul onvermoeide arbeid en volharding; dat hulle slegte mense nie verdra het nie; apostels op die proef gestel het en leuenaars en valse leraars uitgewys het. Hy sien hulle lydsaamheid raak en dat hulle baie vir Sy Naam verduur het en nie moeg geword het nie, maar behoudend vasgehou het aan die kernwaarhede van God se beginsels.

Kritiek: "Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het" (Openbaring 2:4 OV). As gevolg van hulle besigwees en hulle vooruitstrewendheid het hulle Christus later nie meer só liefgehad soos in die begin nie, maar het hulle stelselmatig tot 'n "teruggevalle" toestand veragter.

Vermaning: Hulle moes hulle bekeer en weer doen en leef soos in die begin. Jesus beskryf dié soort liefde waarmee Sy volgelinge God moet liefhê soos volg: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand" (Matteus 22:37 OV). Hy moet éérste in jou lewe wees! Hoe lief het jy die Here? Pasop vir 'n oormatige liefde vir voorspoed en vooruitstrewendheid!

Belofte: "Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is" (Openbaring 2:7(b) OV). Diegene wat aanhou glo, Christus getrou en volhardend dien, sal uiteindelik saam met Hom in Sy heerlikheid leef!

Boodskap vir vandag: Net soos hierdie gemeente aanvanklik nie sonde, losbandigheid, afgodediens en vals leraars verdra het nie, moet herders hul lidmate vandag waarsku teen verfynde afvalligheid in die vorm van 'n "oop" gemoed en "alternatiewe morele korrektheid" wat vir die nuwerwetse mens van die hedendaagse wêreld aanvaarbaar is, maar nié vir God nie!

Elke gemeente(lid) se aanvanklike liefde, vuur en geesdrif vir Jesus mag nóóit verflou nie. Dit is noodsaaklik om daaraan te dink dat werk vir God met 'n suiwer motief gedoen moet word, want géén werk vir God is blywend as dit nie uit opregte liefde vir Hóm gedoen word nie. Verder is daar vandag 'n sterk behoefte aan Christene wat standpunt sal inneem vir God se waarheid en dit dan ook prakties sal uitleef. Doen jy dit?


LAODISEA (Openbaring 3:14-22 NV) [Die Lou Kerk]

Jesus spreek as "die Amen, die geloofwaardige en ware Getuie, Hy deur wie God alles geskep het" (Openbaring 3:14(b) NV).

Agtergrond: Die naam Laodisea beteken "die mens ter wille van die mens," met ander woorde "menseregte" was aan die orde van die dag. Is dit nie dalk wat ons ook vandag beleef nie? Elke mens eien hom die "reg" toe om te leef net soos wat hy/sy wil, ongeag van die feit dat hy/sy in die proses ander mense se regte misken!

Laodisea, ongeveer 67 km noord van Efese, was gedurende die voorspoedjare van die Romeinse Ryk een van die grootste van die sewe stede in Asië. Dit was beslis die rykste stad. Daar was o.a. omvattende bankdienste en 'n tekstiel- en wolnywerheid. By 'n beroemde Mediese Skool is oogsalf vervaardig wat oral bekend geword het omdat dit glo helende krag besit het. Dit was ook 'n stad waar vermaak en genietinge aan die orde van die dag was.

Ten spyte van al die rykdom en voorspoed het Laodisea 'n baie groot probleem met watervoorsiening gehad. Hulle het wel 'n waterleidingstruktuur gebou om water van nabygeleë warmbronne na die stad toe te neem. Teen die tyd dat die water by die stad aangekom het, was dit nie meer warm nie en ook nie verfrissend koud nie, maar lou!

Tydperk: In terme van die Kerkgeskiedenis verteenwoordig die gemeente van Laodisea die tydperk vanaf ongeveer 1900 n.C. tot die tyd wanneer die Groot Verdrukking gaan aanbreek. Die lou, selfvoldane en selfgesentreerde gemeente van Loadisea is kenmerkend van baie hedendaagse gemeentes. Dit is baie belangrik om daarop te let dat ons vandag in die laaste periode van die Kerkgeskiedenis leef. Ons moet dus besef dat ons aan die "einde van dae" leef!

Prysenswaardig: Hoewel Jesus by die vorige ses gemeentes iets kon vind waarvoor Hy hulle krediet kon gee, is daar absoluut niks waarvoor Hy hierdie gemeente kon prys nie. Inteendeel, Hy het net kritiek ten opsigte van hul lewenswandel gehad!

Kritiek: "Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit My mond uitspoeg. Julle sê: 'Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,' en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal" (Openbaring 3:15-17 NV).

Water spreek van lewe. Dit is baie insiggewend dat Laodisea se water lou was en dat Jesus in bg. Skrifgedeelte verklaar dat die gemeente van hierdie stad ook geestelik lou was. En net soos geen mens daarvan hou om lou water te drink nie, so is 'n lou en smaaklose gemeente vir God geheel en al onaanvaarbaar. Hy stel dit baie sterk: 'Ek gaan julle uit My mond uitspoeg!'

Hierdie gelowiges was onverskillig en passief in hul geloofslewe. Hulle het hulself aan die genietinge van die wêreld oorgegee en in 'n gemaksone van selftevredenheid geleef. Hulle was beslis nie doelgerig en volhardend besig om God te dien nie; inteendeel, hulle was geestelik "ellendig en beklaenswaardig, arm, blind en kaal."

Is dit in ons huidige kerklike samelewing nie so dat talle Bedieninge, Bybelskole, predikers, evangeliste en sendelinge glo dat ons in die beste Kerkperiode ooit leef nie? Die Evangelie word dan deur die TV, radio en 'n groot verskeidenheid mediamiddele versprei! Dit is ook beskikbaar in die meeste wêreldtale. Hoewel dit alles baie verblydend is, verklaar God se Woord in Openbaring 3:17(b) dat Sy Kerk geestelik "...ellendig en beklaenswaardig, arm, blind en kaal" is!

Sommige Bedieninge spog dat hulle duisende en selfs miljoene mense vir Christus wen, maar wanneer na die vrug van sulke Christene se lewens gekyk word, is dit strydig met God se beginsels en waardes. Dan leef hulle nie tot eer van God nie, maar word geestelike waardes en wêreldse genietinge vermeng en is hulle gesprekke, dade en lewens nie Christus-gesentreerd nie, maar wêreldse en lou!

Vermaning: "Daarom raai Ek julle aan om by my goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle" (Openbaring 3:18-19 NV).

Jesus vermaan die gemeente om gelouterde, geestelike geloofsgoud by Hom te kom koop. Hulle moes ook wit klere, simbolies van verlossing en heiliging, en oogsalf waarmee hulle in geestelike sin Sy waarheid kon sien, by Hom koop.

Belofte: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op My troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit het" (Openbaring 3:20-21 NV).

Jesus se woorde in vers 20 is in die eerste plek eintlik skokkend, aangesien dit daarop dui dat Hy buite die gemeente, dus buite Sy Kerk staan en moet klop om toegang te verkry! Enige kerk of gemeente (van watter tydperk ook al), mag floreer en oor indrukwekkende komplekse en geweldige toerusting en mensemateriaal beskik, maar sonder dat hulle eens daarvan bewus is, het hulle Jesus na buite geskuif en is Hy nie meer in hulle midde nie! Hy is uitgesluit en hulle is eintlik 'n Christuslose Kerk, aangesien 'n gees van wêreldsheid die botoon voer. Hulle is tevrede met 'n uiterlike gedaante van godsaligheid en hou maar aan met vormgodsdiens terwyl hulle glad nie bewus is van hulle geestelike armoede nie!

In die tweede plek merk ons egter op dat Jesus se liefde vir Sy Kerk só groot is dat Hy nie wegdraai nie, maar aanhou klop en vertrou dat Sy Kerk die toe deur sal oopmaak en Hom binnenooi om saam met Hom maaltyd te hou! Wat 'n genadige en lankmoedige God!

Boodskap vir vandag: Vir God is 'n lou en 'n passiewe geestelike lewe totaal onaanvaarbaar. 'n Gesuiwerde geloofslewe is goud werd en Hy lê klem op 'n persoon se opregte verhouding met Hom, aangesien Hy jou waarde dááraan meet en nie aan jou materiële besittings nie. Menslike besittings, prestasies en sukses is waardeloos wanneer dit gemeet word aan Christus se heerlike en majestueuse Koninkryk se beginsels. Mag elke gelowige tog ag gee op Christus se oproep tot bekering van sy verkeerde weë en hertoewyding aan Hom, sodat Hy by hulle kan tuisgaan en met hulle maaltyd kan hou. En elkeen wat dán voortgaan en 'n lewe van oorwinning leef, sal saam met Hom en Sy Vader heers!


OPROEP

Aan elkeen van die sewe gemeentes in Klein-Asië (en natuurlik dan ook aan alle gemeentes van alle tye), sê Jesus Christus aan die einde: "Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê" (Openbaring 2:7; 2:11; 2:17; 2:29 asook 3:6; 3:13; 3:22 OV). Die Nuwe Vertaling stel dit só: "Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê."

Natuurlik het elke mens ore, maar in hierdie geval praat Jesus in figuurlike sin. Ons moet met ons geestelike ore luister na wat die Heilige Gees vir ons sê. Daarom moet ons in 'n baie noue verbintenis met God die Vader, Jesus die Seun, en die Heilige Gees leef, anders sal ons nie hoor wat die Gees aan ons wil sê nie, en dit sal baie rampspoedige gevolge vir ons inhou!

Hiermee dus 'n uiters dringende oproep aan elke gemeente van Christus en elke wedergebore gelowige om met hul geestelike oor te luister en te doen wat die Heilige Gees aan hulle sê om te doen!

Verder verklaar Jesus ook aan elke gemeente dat daardie persoon wat die oorwinning behaal, wat aan Hom gehoorsaam en getrou bly ten spyte van verwerping en vervolging, saam met Hom sal regeer in Sy Koninkryk!

Liewe leser, wil u nie ook maar net daar waar u sit en lees, 'n paar oomblikke neem om u eie geestelike lewe in oënskou te neem nie? Laat die Heilige Gees toe om met u te praat en die spieël van God se Woord voor u te hou. Bely dan u sondes en ongeregtighede en laat toe dat God u lewe reinig met die kosbare Bloed van Jesus Christus, sodat u saam met Hom 'n heerlike geestelike feesmaaltyd kan hou en as deel van Sy Bruid gereed kan wees vir Sy koms op die wolke!

[Uit: 5 voor Middernag? Japie en Huegene Venter, Rainbow Publishers Potchefstroom, 2011].

(Liewe lesers, ons het slegs twee gemeentes, nl. Efese en Laodisea, hierbo beskryf. U kan hierdie boek verkry direk by die outeurs, 074 254 2319 of by Protea Boekwinkel, Potchefstroom, 018 297 1583/4, of by El Shaddai Boekwinkel, Klerksdorp, 018 468 4405, om die inhoud rondom die ander gemeentes na te gaan.)


Tuisblad