Page 7 - Good News December 2007 paper
P. 7

GOD MET ONS





          "'…en hulle sal Hom Immanuel noem.' Die naam beteken God by ons"
          (Matt. 1:23 NV).
          Kersfees herinner ons daaraan dat God by ons is om ons gebrekkige
          liefde te suiwer. Kersfees leer ons die waarheid van selfopofferende
          liefde. Christus het na Sy eiendom gekom en Sy eie mense wou Hom
          nie aanvaar nie. Desnieteenstaande het Hy aan almal wat Hom aanvaar
          het die reg gegee om kinders van God te word.
          Daar was vir Hom geen plek in die herberg nie. Nogtans waarborg Hy
          'n plek in die huis van Sy Vader vir elkeen wat Hom liefhet en volg.
          Hy  was  verag  en  deur  die  mense  verlaat.  Tog  nooi  Hy  almal  wat
          vermoeid en belas is om by Hom rus te kom vind. Hy het die vermoë
          gehad om van die kruis af te kom en almal uit te delg wat Hom bespot
          het. Maar Hy sterf aan die kruis ter wille van my en jou sonde. Die
          haatdraende wêreld gun Hom nie Sy lewe nie, maar Hy belowe met
          hemelse liefde en genade die ewige lewe aan almal wat in Hom glo. Dit
          is die taal van Immanuel, God by ons.
          Daar  is  soveel  liefdeloosheid  en  haat  in  die  wêreld  vandag.  Dit
          vertroebel die verhouding tussen mens en God, en mens en mens.
          Maar Kersfees kom sê telkens vir ons dat die liefde sal seëvier. Omdat
          God liefde is, het Hy Sy Seun gestuur. As God ons só liefhet, moet ons
          ook mekaar liefhê. Kom ons bely opnuut ons liefde hierdie Kersfees:
          aan God, aan ons ouers, aan ons lewensmaat en aan ons medemens.
          Dán word dit waarlik 'n Christusfees.
          Dankie,  God  van  liefde,  dat  U  toegelaat  het  dat  U  liefde  in  Jesus
          Christus gestalte vind. Gee aan ons meer liefde deur die werk van die
          Heilige Gees.
          Ons liefde vir God word getoets deur die vraag of ons Hóm of Sy
          gawes soek - Ralph W Sockman.
          [Uit: Elke Môre Nuut, Solly Ozrovech, CUM, 1999].
   2   3   4   5   6   7   8   9   10   11   12